’n Verwelkomingseremonie in Klapmuts wat veronderstel was om ’n plesierige geleentheid te wees, het Saterdagaand (7 Mei) in ’n moordtoneel ontaard.
Volgens sersant Bernadene Arendse, Klapmuts-polisiewoordvoerder, is die seremonie gehou om diegene wat van die Oos-Kaap teruggereis het, te verwelkom. Die voorval het omstreeks 21:50 in Fernstraat afgespeel.
“Dit was die verdagte se eerste keer in Klapmuts, want hy is genooi na die partytjie toe, waar hy ’n vrou ontmoet het,” het Arendse verduidelik. “Hy [die verdagte] en die vrou het toe gesels en toe kom die oorledene en staan nader en sê vir die verdagte dat dit sy vriendin is [met wie hy gesels]. Die vrou het toe geantwoord dat die oorledene haar ekskêrel is.”
Die twee mans het vermoedelik in ’n woordewisseling betrokke geraak en mekaar beetgekry. Die 30 jarige-verdagte het glo ’n mes uitgepluk en die slagoffer noodlottig gesteek.
Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en het reeds in die Paarl-landdroshof verskyn. – Chantélle Hartebeest