Die vyf verdagtes wat aangekla word van die moord op Harlene Meyer het Donderdag (27 Februarie) vlugtig in die Stellenbosch-hof verskyn nadat al vyf hul borgtogaansoek laat vaar het.
Francois Cyster, Ralston Oliphant, Marco Cedras, Gerschwin Barends en Tyron Otto word verdink van die moord op die 49-jarige ma van Cloetesville wat Woensdagoggend 26 Junie 2024 vroeg in die buurt afgemaai is. Meyer en twee kollegas was op pad werk toe toe sy glo besluit het om na ‘n winkel in Pinestraat te loop. Op pad na die winkel het ’n groep mans glo op mekaar begin skiet toe Meyer in die kruisvuur getref is.
Ten tyde van die voorval het die gemeenskap ’n noodkreet aan die plaaslike polisie en die Stellenbosch-munisipaliteit gerig om die toenemende geweld in Cloetesville, wat onder bendegeweld gebuk gaan, aan te durf.
“Ons is die stem vir die stemlose. Ons is ook hier om te ondersteun en sal nie negatiwiteit van buite toelaat nie. Vandag is nog die sterkste wat die familie by die hof was. Ons oë sal droog bly, want hulle verdien nie ons trane nie,” het die gemeenskapsaktivis Stephanie Heneke gesê. Sy het die groep ondersteuners aangespoor om nie by familielede van die beskuldigdes betrokke te raak nie. “Ons respekteer hulle namate hulle ook hul familielede ondersteun. Die hofsaak is nou in volle gang en ons sal aanhou om die Meyer-gesin binne en buite die hof te ondersteun.”
Die beskuldigdes se saak is na die streekhof oorgeplaas en die familie meen die saak moet sy gang gaan. Al vyf verdagtes word tot 16 April aangehou wanneer hulle in die streekhof sal verskyn.