Mia Heneke (13), bobaas-doelwagter, saam met ma Meldene en pa Carl by Idasvallei Primêr nadat sy Suid-Afrika by die Cosafa-skolesokker-kampioenskap verteenwoordig het. Foto: Yaël Malgas


Sy kom uit ’n huis vol sokker-liefhebbers met goeie hand-oog-koördinasie. Dit is dus geen verrassing dat Mia Heneke die land by die internasionale skolesokker-kampioenskap verteenwoordig het.

Die 13-jarige was lid van die Suid-Afrikaanse o.15-span wat van Vrydag 11 tot Sondag 13 Oktober aan die Cosafa-skolesokker-kampioenskap in Namibië deelgeneem het.

Idasvallei Primêr het dié sokkerster met ’n seremonie weggestuur en ma Meldene en pa Carl was byderhand. Dié gr. 7-leerder het by die toernooi geskitter en haar span het die toernooi onoorwonne geëindig.

Op haar beurt het die doelwagter nie een bal verby haar laat kom nie. Dit was dus geen verrassing dat sy met die toernooi se goue handskoen vir doelwagter weggestap het nie.

“Dit was die derde of vierde keer dat ek vanjaar gevlieg het vir sokker. Dit was lekker in Namibië. Ek was ’n bietjie senuweeagtig,” sê Mia.

Die Suid-Afrikaanse span het onder meer teen Angola, Eswatini en Zimbabwe te staan gekom. Die SA-span het die eindstryd gehaal en uiteindelik met 3-1 teen Malawi geseëvier.

Gewoonlik skree Mia, haar pa en broer Connor (19) vir Manchester United, terwyl ma ’n Liverpool-ondersteuner is.

Tydens die toernooi was die hele gesin natuurlik vasgenael op die YouTube-kanaal waarop Mia se wedstryde uitgesaai is.

By die huis is Mia ’n lid van die Maties-vrouespan en dit blyk haar “goue hande” loop in die familie. Carl was op sy dag ook ’n bobaas-doelwagter, ’n prestasie wat sy kinders aanvanklik verbaas het toe hulle hiervan gehoor het. Dit blyk Connor het ook dié gesinsvaardigheid geërf.

Daar kan ook geen twyfel aan Mia se talente wees nie. Sy het reeds op die ouderdom van 11 jaar by die Nelson-sokkerklub begin sokker speel. Hier was sy al meisie en het vir twee jaar gespeel voor Maties dié tiener gevra het om by hulle aan te sluit.

Haar ouers bieg die uitgawes wat met sport gepaard gaan is soms ’n uitdaging, maar die ondersteuning vanuit die gemeenskap kom altyd deur – ondersteuning waarvoor hulle altyd dankbaar is.

Mia sê sy is seker van haar saak – sy wil eendag professioneel sokker speel. Sy sê om afrigter te wees klink ook na ’n goeie plan, maar hoe dit ook al sy, by die sokkerveld wil sy bly.

You need to be Logged In to leave a comment.