“As ’n mens kyk na wat tans in ons parlement aangaan en hoe min respek daar vir mekaar, ons Grondwet en ons mense is, dan moet ’n mens ’n bietjie meer bekommerd wees oor dit. Elkeen van ons as stemgeregtiges en burgers moet vra: Hoekom duld ons wat aangaan?”
Só het Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, Sondag 23 Februarie in die Pniël Congregational kerk tydens sy spreekbeurt by die Adam Small-fees gesê.
Volgens Manuel, as ons kyk na wat ons as Suid-Afrikaners alles al in ons tyd deurgemaak het en byvoorbeeld kyk na wat in die Zondo-kommissie (ná staatskaping) aangaan, “dan bestaan presies dieselfde kwessies en ons moet ophou net aanvaar wat ons sien”.
Manuel het beklemtoon dat ons ’n moeilike pad gekies het met die wyse waarop die Grondwet saamgestel is omdat een van die dinge wat ons moes doen, was om te aanvaar dat ons verenig in ons diversiteit is.
“Ons gaan nie almal dieselfde wees nie. Ons gaan nooit glo dat ons almal net dieselfde is nie. Ons moet almal verenig wees, maar die beginpunt is ons diversiteit. So het ons ’n baie moeilike pad gekies deur te besluit dat ons 11 amptelike tale sal hê en elke taal sal gelyk wees aan mekaar. Dis ’n moeilike pad, want ons moet ook ’n nasie bou.”
Volgens Manuel is die oorspronklike taal waarin nuwe wetgewing onderteken is, die belangrikste vir daardie wetgewing. Hy het toe uitgelig toe die Grondwet in 1996 aanvaar is, dit in Afrikaans onderteken is.
“As ons kyk na die 11 tale, is daar ook werk wat nog gedoen moet word. Die landswapen sê: ‘Ons is verenig in ons diversiteit’. Ons leer nie die belangrikheid van die taal aan ons kinders nie en ons eien nie die demokrasie nie. Dit is ons grootste probleem. Dis iemand anders se demokrasie. Ons moet nou wag vir die parlement of vir die president om sy staatsrede te lewer, want ons beteken niks. Dis wat eintlik verkeerd gegaan het met waar ons vandag is.”
Manuel beskryf die Grondwet as ’n “merkwaardige sterk dokument” en het toe konteks gegee deur die aanhef tot die Grondwet te lees. Eerstens het hy beklemtoon dat dit moeilik is om die Grondwet in Afrikaans te verkry. “As jy nie die Grondwet in ’n moedertaal vir ons kinders kan gee nie hoe sal hulle dit verstaan? Hoe sal hulle dit eien?”Hy het begin met die eerste gedeelte van die aanhef wat lees:
Ons, die mense van Suid-Afrika,
Erken die ongeregtighede van ons verlede . . .
“Dís wat ons as Suid-Afrikaners glo. As iemand sê hy het nooit geweet Apartheid was ’n misdaad teen die mensdom nie, as dit is wat hy sê, hoe het hy die Grondwet onderteken wat sê (ons) ‘erken die ongeregtighede van ons verlede’? het Manuel gesê in verwysing na onlangse uitlatings deur voormalige president, F.W de Klerk.
Voorts sê Manuel: “Hoe getrou was hy in die eed wat hy afgelê het as adjunkpresident en as lid van parlement, as hy dit nie verstaan het nie? Toe ons die Grondwet in die parlement aanvaar, toe was hy dan nog ’n parlementslid gewees. So hoe draai hy om? Geskiedenis laat jou mos nie toe om dit te doen nie. Met tegnologie en sosiale media kan jy nie wegskroom van dié goed nie. Dis daar.”
Die aanhef van die Grondwet lees verder soos deur Manuel aangehaal het:
Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde –
Die verdeeldheid van die verlede te heel en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;
Die grondslag te lê vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word…
Hieroor sê Manuel: “Jacob Zuma en Moyhdine Pangarker (54), die man wat in hegtenis geneem is vir die moord op Tazne van Wyk, het gelyke toegang tot die gereg. Hy is nie beter omdat hy president was nie. Dis wat die Grondwet baie duidelik vir ons sê.”
Voorts lees die aanhef van die Grondwet:
(Dit is ten einde) die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en
’n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ’n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.
“Sonder belegging in opvoedkunde kan ons nie die potensiaal van ons jongmense ontsluit nie,” sê Manuel.
“As ons kyk na wat ’n demokrasie is, al bestee die staat gelyke geld aan elke kind ongeag ras, ens., dit is so dat kinders van gegoede, families meer toegang tot opvoeding het as die kinders van arm families. Hoe gaan ons dit regstel? Dis ’n uitdaging vir ons,” het Manuel beklemtoon voordat hy die vraag gestel het: “Hoe maak ons die verskil? Dis die uitdaging van ons Grondwet. Dit gaan nie net oor regte nie. Dit gaan ook oor hoe betrokke ons as burgers is. Hoe aktief ons in ons lewens is. Hoe ons weer dieselfde energie gaan bring as wat ons destyds (in die aanloop tot demokrasie) gesien het.”
Volgens Manuel bestaan die risiko om in hegtenis geneem te word soos wat met baie anti-apartheid aktiviste gedurende apartheid gebeur het, nie meer nie. “Die risiko bestaan nie meer nie, maar die energie is nie daar om ons demokrasie te red nie?
“Adam Small het ’n wonderlike gedig geskryf Die Here het gaskommel en die dice het net so geval, maar ons kan nie net sê die dice het so geval dat daar rykdom en armoede is nie. Die Grondwet behoort om ’n verskil te maak, maar ons kan dit nie net aanvaar nie. Die Grondwet is 24 jaar oud. Ons verstaan dit nie. Ons kinders verstaan dit nie. Wie gaan dit eien? Wie gaan die verskil wil maak? Dít vir ons is die belangrikste politieke vrae wat ons sal moet antwoord en beantwoord, want as ons dit nie eien nie, wie sal die Grondwet verdedig? Aan wie behoort dit?”
Oor Pniël het Manuel die volgende gesê: “Ek dink die gemeenskap van dié vallei het ’n wonderlike geskiedenis. Die kerk, die gemeenskap, die geskiedenis van slawerny, die slaweklok wat nog steeds daar hang, want van tyd tot tyd is dit iets wat weer iets in ons moet wakker maak. Ons weet wie ons is. Ons weet waar ons vandaan kom. Ons weet waar ons deurgestap het.”
Suid-Afrika het aktiewe burgerskap nodig, volgens Manuel. “Ons het mense nodig wat ’n bietjie omgee en baie ongeduldig sal wees. Mense wat sal sê die gedrag van ons parlementslede is vir ons onaanvaarbaar. Mense wat sal saamdrom en sê ons moet mekaar respekteer.”
“Waar die Grondwet in die aanhef sê: ‘Ons neem hierdie Grondwet aan ten einde, lewensgehalte van alle burgers te verbeter en die potensiaal van elke mense te ontsluit’.”
“Ons moet teruggaan en vra: Wie het daai belofte gemaak en namens wie? Deur daai belofte te maak, as ons dit verstaan, dan sal ons bietjie meer aandag skenk aan wat om ons aangaan. Ons sal dan besluite neem sodat dit moeiliker is vir dié wat besluite moet neem, hetsy op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak, om weg te kom met minder as wat ons vir ons kinders doen,” het Manuel ter afsluiting gesê.