Min so mooi as pronk-krisante

Min dinge is so mooi soos kleurryke krisante in volle blom. Hoewel dikwels na dié blomsoort as winterasters verwys word, is dit egter die pragtigste somer-prentjie wat hart en siel met die sien daarvan soos ’n helder sonstraal verwarm en verlig.


Min dinge is so mooi soos kleurryke krisante in volle blom. Hoewel dikwels na dié blomsoort as winterasters verwys word, is dit egter die pragtigste somer-prentjie wat hart en siel met die sien daarvan soos ’n helder sonstraal verwarm en verlig.

Hierdie verblydende ervaring is aan talle besoekers gebied wat die suksesvolle krisanteskou, wat verlede Saterdag (7 Mei) in Pniël gehou is, bygewoon het. Passievolle kwekers van dié blom het ná nege maande – ja, so lank soos om ’n baba te verwag! – se vertroetel en versorg hul blomryke handewerk in die kerksaal van die Pniël-gemeente op skou uitgestal vir almal om te bewonder. Die skou was ook ’n gulde geleentheid vir families om hul blomme vir Moedersdag (8 Mei) te koop.

Die asemrowende skouspel is deur die Pniël-tuinbou-en-huisvlyt-vereniging, in samewerking met Pniël-erfenis-en-kultuurtrust, aangebied. Die Pniël- tuinbou-en-huisvlyt-vereniging is in 1981 gestig en het later by die Nasionale krisantevereniging aangesluit. En soos tradisie bepaal, is die krisanteskou jaarliks op die eerste Saterdag in Mei gehou – tot nou toe Covid almal ingeperk het. Die organiseerders is verlede jaar verplig om die skou op baie kleiner skaal aan te bied. Maar hierdie jaar het ou en jong plaaslike inwoners en besoekers opgeruk om die prag van die natuur te aanskou.

Krisante

Hierdie passievolle kwekers het ná nege maande met hul kleurryke krisante by die skou gespog. Hulle is Patrick Isaacs, Christopher Karelse, Alec Lyons, Riedwaan Baard, Bernard Mentoor, Fazli Schroeder, Richard Williams, Jacobus Simonse en Niven Noland.Foto:

’n Trotse Riedwaan Baard by sy pragtige krisante. Dié kranige kweker met groenvingers het die kampioen-blom-titel verower en met ’n silwermedalje van die krisantekompetisie af weggestap.

Bernard Mentoor het ’n bronsmedalje gekry vir die beste drie blomme. Hy het ook die meeste punte by die skou aangeteken met amper 150 blomme op die uitstalling. Bo ontvang Mentoor ’n beker van Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch.

Altesaam 466 blomme is deur manlike kwekers van Pniël, Kylemore, Firgrove en Paarl by vanjaar se spoggeleentheid uitgestal. Plaaslike entrepreneurs is die geleentheid gebied om hul ware by die skouspel te verkoop, met 10 stalletjies wat alles van handgemaakte artikels en konfyte tot koshappies en boeke te koop aangebied het. Die skou het ook ’n geleentheid gebied vir plaaslike musikante om besoekers met hul klassieke en moderne klanke te vermaak. Die musiekmakers het die musiekstudente van die Universiteit Stellenbosch – die violiste Carolyn Adams en Dawid Botes, die kitaarspeler Purdon Simpson en die sleutelbord-speler Winston Lackay – ingesluit.

Die skou is baie goed ondersteun. Die besigtiging was van 09:00 tot die middaguur, waarna die opening en prysoorhandiging plaasgevind het.

Riedwaan Baard het die gesogte kampioen-blom-titel verower en met ’n silwermedalje weggestap.

Bernard Mentoor het ’n bronsmedalje vir die beste drie blomme gewen. Hy het ook die meeste punte op die skou aangeteken en bykans 150 blomme uitgestal.

Ander wenners vir die beste blomme in die verskillende afdelings was Richard Williams en Alec Lyons. Deelnemers het Christopher Karelse en Jacobus Simonse ingesluit.

Die deelnemers kweek die blomme in hul eie tuine onder handgemaakte afdakke. Ná die skoufees, wat daarop gemik is om talentvolle mense in die Dwarsriviervallei bymekaar te bring en sodoende die kultuurerfenis te koester en te bewaar en met ander te deel, is die honderde blomme elkeen in ’n oogwink verkoop.

Om krisante te kweek, is ’n stokperdjie wat harde werk behels, maar groot genot verskaf. Dit is ontspannend en verlaag stresvlakke. Die plan is om werksessies wat die kuns sal aanwakker en die kultuur sal bewaar, van Augustus aan te bied.

’n Spesiale dankie aan Dwarsrivier-toerisme en die Stellenbosch-munisipaliteit, wat die skou ondersteun.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.