‘n Minderjarige seun (17) is die afgelope naweek in Groendal, Franschhoek inhegtenis geneem nadat hy ‘n 21-jarige man, na bewering, met ‘n mes doodgesteek het.
Volgens lt. kol. Frederick Rossouw, stasiebevelvoerder van die Franschhoek-polisie, het die voorval die afgelope Sondagoggend (6 Julie) omstreeks 03:30 plaasgevind.
Kurt Maske, ‘n ER24-paramedikus het aan die Paarl Post vertel dat die insident in Kakamasstraat plaasgevind het, en dat die slagoffer reeds met sy aankoms op die toneel dood was.
Die slagoffer is na bewering, in die bors gesteek en het in sy huis aan sy wonde beswyk.
Volgens Rossouw het die dodelike geveg tussen die verdagte en slagoffer weens ‘n meningsverskil uitgebreek.
Die minderjarige verdagte is glo kort na die insident deur die Franschhoek-polisie opgespoor en die mes waarmee hy die slagoffer gesteek het, is ook gevind.
‘n Moordsaak word tans deur die Franschhoek-polisie ondersoek met die minderjarige wat steeds in aanhouding is.


