Die digitale speletjie-gebaseerde leerplatform Minecraft Education kan leerders help om hul vaardighede in kodering en robotika te verbeter, wat hulle goed te staan sal kom wanneer hulle die werkplek van die toekoms betree.
Dít is volgens ’n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US). “Minecraft Education en sy virtuele robot, die Agent, kan leerderbetrokkenheid verbeter, die ontwikkeling van leerders se vaardighede in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) ondersteun en aan hulle ’n positiewe, betekenisvolle, genotvolle leerervaring bied,” sê Michael Vorster, ’n onderwyser van Kaapstad wat onlangs sy meestersgraad in kurrikulumstudie aan die US verwerf het.
“Kodering en robotika word as integrale komponente van STEM-onderwys beskou weens hul potensiaal om 21ste eeuse vaardighede te ontwikkel.”
Vorster het gefokus op hoe Minecraft Education en die Agent as ’n digitale speletjie gebaseerde hulpmiddel geïntegreer kan word om die onderrig en leer van kodering en robotika in ’n gr. 7-klas by ’n onafhanklike skool in Kaapstad te ondersteun. Hy wou uitvind hoe leerders en hul onderwyser Minecraft in die klaskamer ervaar het.
Vorster sê die gr. 7-leerders het in hul eerste kwartaal ’n Minecraft Virtual City-projek voltooi, waar hulle in pare of groepe van drie leerders binne dieselfde Minecraft-wêreld moes werk om ’n leë erf van hul keuse (residensieel, kommersieel of nywerheid) te ontwikkel. Die groepe het saamgewerk om hul virtuele stad in Minecraft te skep terwyl hulle meer oor stadsbeplanning geleer het.
Die onderwyser het die kaart met die leë erwe geskep.
Hulle het ook ’n Minecraft-Agent-koderingsmodule in dieselfde jaar voltooi, wat vereis het dat hulle ’n stel spesifieke instruksies moes volg om hul Agent te kodeer sodat dit spesifieke opdragte kon uitvoer soos om ’n boorgat te skep, die boorgat met water te vul, asook ’n diereplaas te skep en ’n kweekhuis te bou.
Die Minecraft Agent-koderingsmodule is aan die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte gekoppel, met ’n fokus op Doelwit 6: Skoon Water en Sanitasie.
Volgens Vorster het sy waarneming van lesse, fokusgroepbesprekings en onderhoude met leerders, die onderwyser en ’n assistent getoon dat Minecraft Education die potensiaal het om betrokkenheid, samewerking en kreatiewe probleemoplossingsvaardighede te bevorder en leerders voor te berei vir toekomstige tegnologiese landskappe en loopbane.
“Minecraft Education en die Agent dra aansienlik by tot emosionele, kognitiewe en gedrags-leerderbetrokkenheid deur ’n meevoerende, interaktiewe en genotvolle leeromgewing te bied. Hierdie elemente help om leerders se volgehoue belangstelling in, motivering vir en aktiewe deelname aan kodering en robotikalesse aan te moedig.
“Minecraft bied genotvolle speletjies en gepaste uitdagings en maak voorsiening vir vordering in die aanleer van kodering- en robotikavaardighede. Die praktiese, interaktiewe aard van Minecraft Education het kreatiewe probleemoplossing en samewerking tussen leerders aangemoedig as deel van hulle emosionele en gedragsbetrokkenheid wanneer hulle take voltooi en uitdagings oorkom.
“Hulle het saamgewerk deur mekaar te help om hul kodes te korrigeer of ‘te ontfout’ en het saam gevier wanneer hulle ? taak suksesvol tydens die Agent-koderingsmodule voltooi het.”
Vorster sê in vorige koderingsmodules sou die leerders belangstelling begin verloor sodra die kodering- en robotika-aktiwiteite te uitdagend geraak het. “Met die gebruik van Minecraft Education het dit egter gelyk asof hulle langer en met meer deursettingsvermoë betrokke kon bly en probleemoplossingsvaardighede begin toon het om meer komplekse uitdagings tydens die kodering- en robotikalesse die hoof te bied.
“ ’n Kombinasie van Agent-koderingstake en kreatiewe boutake in Minecraft Education het die potensiaal om baie leerders ‘kreatief betrokke te kry’ en te motiveer met die potensiaal om ’n staat van ‘vloei’ te bewerkstellig – om ten volle in die aktiwiteit gedompel te word sonder dat hul aandag afgelei word of hul fokus verloor – deur hul vaardigheidsvlak by die toepaslike vlak van uitdaging aan te pas.”
Vorster beklemtoon ook die deurslaggewende rol van onderwysers om leerders tydens die kodering- en robotikamodule te motiveer, aan te moedig en te lei. Hulle fasiliteer leeraktiwiteite, wat spanwerk aanmoedig en leerders help om uitdagings binne die verskillende Minecraft-take te navigeer.
“Terugvoer van die leerders het daarop gedui dat die onderwysers se insette en betrokkenheid by hulle tydens ’n kodering- en robotikales ’n regstreekse invloed op hul kognitiewe en gedragsbetrokkenheid by die take gehad het. ’n Gevoel van behoort onder leerders, asook ondersteuning en aanmoediging van onderwysers, is as twee belangrike aspekte van emosionele en gedragsbetrokkenheid beskou.”
Vorster sê kodering- en robotika-aktiwiteite vereis dat leerders ’n stel opdragte ontwikkel wat ’n robot moet uitvoer.
“Hierdie stel opdragte vorm die kode wat die robot volg om ’n taak uit te voer, byvoorbeeld om in ’n spesifieke rigting te beweeg. Leerders vind dikwels dat die robot nie die taak uitvoer wat hulle verwag het nie, wat meebring dat hulle hul kode moet herbesoek om dit reg te stel of te ‘ontfout’.
“Dis dus belangrik om leerders betrokke te hou, veral wanneer kodering- en robotikatake meer uitdagend word, anders kan leerders begin belangstelling verloor en die taak heeltemal opgee sonder om ’n lewensvatbare oplossing vir die ‘virus’ of fout in hul kode te vind.”
Ten einde vir Minecraft Education en die Agent om die gewenste uitwerking te hê, moet onderwysers volgens Vorster opdragte, take en aktiwiteite skep wat leerder-outonomie, leerder-selfstandigheid en ? gevoel van prestasie in ag neem.
Hy erken hoewel al meer onafhanklike skole in Suid-Afrika hul eie kodering- en robotikalesse as deel van hul STEM-kurrikulum begin ontwikkel het, kan baie skole steeds nie robotikastelle bekostig nie. “Dit bly ’n struikelblok in Suid-Afrika. Vennootskappe tussen die openbare en private sektore kan ’n potensiële oplossing vir hierdie uitdaging bied.”