Terwyl talle mense Jeugdag gevier het, het inwoners en jongmense van Cloetesville in Northendstraat byeengekom nadat nog ‘n jong man sy lewe hier verloor het.
Maandagoggend (16 Junie) het geestelike leiers, lede van plaaslike buurtwagte en die inwoners saam van Smartie Town na Northendstraat gestap om hul ongelukkigheid met die voortslepend bendegeweld en misdaad te wys.
Die geestelike betoging het stappers deur die buurt geneem – begelei deur polisiebeamptes, verkeersbeamptes en lede van die munisipale wetstoepassingseenheid. Hulle het uiteindelik in dié berugte straat geëindig, waar die soveelste jong man die afgelope naweek sy lewe verloor het.

Volgens AO Zenobia Sedeman, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, het beamptes Saterdag (14 Junie) om 21:30 ‘n klagte van ‘n skietery in Northendstraat ontvang. Met hul aankoms op die toneel het hulle ‘n man in die pad aangetref, wat nie gereageer het nie. “Hy is na die Stellenbosch-hospitaal geneem waar hy dood verklaar is,” bevestig Sedeman.
Benewens die geestelike boodskap wat gebring is, was daar ook ‘n getuienis van ‘n voormalige bendelid. “Ons is hier om te sê ons het genoeg gehad – genoeg van misdaad; genoeg van bendegeweld; genoeg van kindermishandeling en geweld teen vroue en kinders,” het kapelaan David Block van die Lewende Ministeriële Metodiste onder toejuiging gesê.
Block was onder die kerk- en geestelike leiers wat meen inwoners moet nou saamstaan om ‘n einde aan die geweld te bring. Volgens Block moet almal wat hul hand vir verandering in die gemeenskap opsteek, eers by hul eie wonings begin.

“Indien jy sê ‘ja’, hou op om jou kind voor te praat wanneer hulle die verkeerde dinge doen. Dit is waar die bendes begin. As u vanoggend u hand opsteek en sê ‘ja, ek sal opstaan’, dan is dit tyd dat ons as ouers moet opstaan, want daar is kinders wat in dié geweld grootword. Ons kan nie alles in die polisie en wetstoepassers se hande laat nie,” sê hy.
Die dag is deur die plaaslike geestelike misdaadvoorkomingsgroep gereël. Dié groep bestaan soos die gemeenskaps- polisiëringsforum uit vrywilligers wat saam met die polisie vir misdaadbekamping werk.
Volgens die voorsitter, Magdelene Blakenberg, kan die einde van bendegeweld in die gemeenskap slegs kom wanneer ouers bereid is om teen hul kinders op te tree.
“Ons kinders word [deur bendelede] gebruik en die ouers is tevrede hiermee,” sê Blakenberg. Sy vertel hoe sy ma’s saamgeroep het wie se kinders glo in bendes opgeneem is om op te staan teen die kwaaddoeners, maar geen van hulle was bereid om die kwaaddoeners te konfronteer nie.
Sommige inwoners bieg hulle is vreesbevange vir sulke konfrontasies. Ander glo die koste om stil te bly, is te hoog.
Een ouer sê ten spyte waarvoor leerders op 16 Junie 1976 in Soweto geveg het, leef Cloetesville se kinders en jongmense steeds in onderdrukking – nou is dit misdadigers wat plaaslike kinders se lewens onderdruk.

Blakenberg moedig ouers aan om hul kinders eerste te stel, al beteken dit soms om hul verkeerde dade aan die polisie te verklap. “Ek sal liewer my eie kind in die tronk laat sit as wat ek moet luister na ‘n huilende ma wie se kind verslaaf is aan die dwelms wat my kind aan hom verkoop het. Ons sien wat in die gemeenskap gebeur, maar ons praat nie daaroor nie.”
Lt.kol. Monique Fortuin, die bevelvoerder van die Cloetesville-polisie, spoor inwoners aan om nie toe te laat dat kinders deur misdadigers gebruik word nie.
“Moenie toelaat dat jou kind by bendes betrokke raak nie – hulle sal in hierdie strate sterf,” waarsku sy.
Inwoners wat hulp met hul kinders nodig het of met iemand oor die uitdagings wil praat, kan vir by die geestelike misdaadvoorkomingsgroep aanklop. “Ek weet hier is vandag mamma’s wie se kinders groot bendelede is en nie weet hoe of wat om te maak nie. Kom gesels met my, kom na die polisiekantoor en maak ‘n afspraak. Ek sal seker maak dat julle gehelp word,” nooi Fortuin.
• Bel Fortuin by 082 411 2911 met inligting oor Saterdag se skietvoorval.
You must be logged in to post a comment.