Misdaad vind in Stellenbosch plaas hier en op dié tye

Stellenbosch-polisie doen ’n beroep op inwoners om op hul hoede te wees veral in die volgende gebiede waar die volgende misdaad-tendense in Julie opgemerk is:.


Stellenbosch-polisie doen ’n beroep op inwoners om op hul hoede te wees veral in die volgende gebiede waar die volgende misdaad-tendense in Julie opgemerk is:

Verskeie gevalle van poging tot moord, veral gevalle waar verdagtes ’n mes as wapen gebruik is in die omgewing van Vlottenburgpad, Vlaebergpad, Polkadraaipad, Coetzenburg, asook die Azania- en Nkanini-nedersettings, aangemeld. Volgens die polisie het meeste gevalle van 15:00-18:00 en 21:00-23:59 op Sondae plaasgevind.

Motoriste word gewaarsku dat skelms veral in Victoria-, Andringa- en Suidwalstraat voertuie steel. Dit blyk skelms is veral besig Woensdae en Donderdae tussen 09:00 en 12:00.

Roof bly ’n kopsorg met verdagtes wat eenvoudig inwoners se besittings gryp en die hasepad kies. Gevalle is veral in Bird-, Ryneveld en Merrimanstrate, tussen 15:00 en 03:00 aangemeld.

Die Stellenbosch-polisie waarsku voorvalle van roof met verswarende omstandighede kom veral in Khayamandi in die vorm van huisrowe voor. Die polisie ondersoek sake wat tussen Woensdag en Vrydag 06:00-09:00 en 21:00-23:59 plaasgevind het met ’n vuurwapen wat gebruik is.

Diefstal uit voertuie kom veral op Maandae en Woensdae tussen 15:00 en 21:00 voor. Klagtes op die Helshoogtepad asook in Dorp- en Suidwalstraat is in Julie aangemeld.

Inwoners word gemaan om nie sommer enige elektroniese dokumente of skakels oop te maak nie aangesien elektroniese bedrog al hoe meer algemeen word. Insidente van elektroniese, internet transaksies wat uiteindelik bedrog is, is Woensdae tussen 12:00 en 15:00 in die dorpsgebied aangemeld.

“Wees bedag op swendelary wat aan die gang is. Moenie sommer skakels oopmaak of dokumente aflaai indien dit van onbekende of verdagte e-pos-adresse af kom nie. Maak altyd seker van diegene wat die e-pos gestuur het voor jy antwoord of enige persoonlike inligting deel. Wees versigtig om nie persoonlike inligting te stuur nie. Koop slegs van veilige webblaaie, gebruik sekure betaalmetodes en rapporteer enige verdagtes aktiwiteite,” maan kaptein Nathalie Martin, plaaslike polisiewoordvoerder.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.