Dit maak nie saak of jy op pad werk toe is, met jou hond gaan stap of net deur die buurt loop nie – almal is deesdae ’n teiken vir rowers in Onder-Papegaaiberg (OPB).
Inwoners, hul werkers en diegene wat deur die buurt stap, loop vir maande onder kwaaddoeners deur, wat blykbaar die nabye Papegaaiberg-natuurreservaat onwettig hul tuiste maak.
“Die voorvalle van misdaad is aan die toeneem en die natuurreservaat is nou ’n toegangsroete en wegkruipplek vir misdadigers. Inwoners en werkers word naby die begraafplaas en selfs in die buurt met honde gejaag en gesteek wanneer hulle beroof word, en in meeste gevalle [gebeur dit] helder oordag,” verduidelik Karin Coetzee, onder-voorsitter van die plaaslike buurtwag.
Die rooftogte was só erg dat die inwoners besluit het om hul eie buurtwag te stig.
Eikestadnuus het voorheen berig oor aanvalle op inwoners in die buurt (OPB-inwoners: “Ons is nou raadop”, 21 Maart) asook inwoners se kopsere oor die nabye natuurreservaat (“Help red Papegaaiberg-reservaat”, 14 September 2023).
Coetzee sê aanvalle is nou byna daagliks in die buurt.
Diegene wat die buurt teiken, blyk dieselfde mense te wees wat die reservaat onwettig hul tuiste maak.
Coetzee sê kwaaddoeners gebruik ook die reservaat as ’n ontsnaproete om te vlug. “Koeie, perde en varke loop los in die reservaat en mans met troppe jaghonde jag nie net diere nie, maar ook mense om hulle te beroof,” verduidelik sy.
’n Vrou (60) is Vrydag 21 Junie aangeval en het in die hospitaal beland nadat sy in Flamingostraat aangeval is. Sy was op haar fiets op die wandelpaadjie aan die oorkant van die begraafplaas. Agter die begraafplaas is die reservaat-heining geknip.
Intussen het verskeie inwoners geld geskenk vir haar mediese koste en terapie ná die voorval.
“Geen inwoners, leerders of toeriste kan die reservaat besoek en geniet nie, want dit is lewensgevaarlik,” meen Coetzee.
Ná die mees onlangse voorval het inwoners besluit om self iets aan die situasie te doen en het bosse begin uitkap en gate in die heining herstel “om dit veiliger te maak”.
In ’n afsonderlike voorval Maandag 20 Mei het ’n vrou in Distilleryweg huis toe gestap toe ’n man met ’n hond verby haar geloop het. Nadat hy sowat 100 m weggeloop het, het die verdagte omgedraai, ’n mes uitgepluk en op die vrou afgestorm.
Die Stellenbosch-polisie bevestig die vrou is in die skouer gesteek en die verdagte het haar selfoon gegryp. ’n Motoris wat verbygery het, het gekeer dat die vrou weer gesteek word en die verdagte het die hasepad gekies.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het glo planne om boswagters op te lei. Die buurtwag voer egter aan dié ongewapende wagters sal nie veel kans staan teen gewapende mans en hul troppe honde nie.
Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, sê na afloop van ’n vergadering tussen die munisipaliteit, CapeNature en inwoners is ’n aksieplan opgestel. “Hierdie plan dek verskeie kwessies rakende beveiliging, die oprig van naamborde en die bevordering van toerismeaktiwiteite in die reservaat. Die munisipaliteit het reeds met Visit Stellenbosch vergader oor toerismeaktiwiteite in en om die reservaat. Geld is ook deur die munisipalitiet aan die inisiatief bewillig en opleiding in hierdie verband is tans aan die gang,” verduidelik Grobbelaar.
Hy voeg by dat misdaad ongelukkig ’n werklikheid is en die munisipaliteit werk saam met die polisie in hul ondersoeke.
“Ons munisipale wetstoepassers patrolleer ook gereeld die gebied en enige nuwe onwettige strukture word onmiddellik verwyder sodra dit gewaar word of by ons aangemeld word,” sê Grobbelaar.
Kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie, het ’n toename in misdrywe in die Onder-Papegaaiberg-gebied bevestig.
“Die Stellenbosch-polisie werk nou saam met [munisipale] wetstoepassers, veiligheidsmaatskappye en die buurtwag van die gebied om veiligheid van die gemeenskap te verseker. Mense wat van hierdie misdaadvoorvalle gesien het, moet asseblief na vore kom.”
Sy raai inwoners aan om kontak te maak met die operasionele kantoor by 021 809 5015, of die sektorbestuurder, sers. Allister Maraj, by 082 522 1690.