Om jouself as jongmens te vind, is moeilik genoeg, maar as jy ‘n transgender vrou is, kan die lewe nog moeiliker wees.
Tog het Stacey Leigh Anastazah Jones (24) van Cloetesville besluit sy sal te alle tye haarself wees en neem vanjaar aan die Miss Drag SA-kompetisie (MDSA) deel. “Dit is ‘n groot voorreg vir my om deel te neem, want ek kom uit ‘n gemeenskap wat daagliks met bendegeweld leef en ek ken dit eerstehands. Daarom wil ek verandering in my huis sowel as my gemeenskap met my deelname aan die kompetisie bring,” verduidelik Jones. Sy sal die Wes-Kaap in die nasionale kompetisie verteenwoordig.
Jones sê sy is ‘n kampvegter vir jongmense en bejaardes met ‘n fokus op haatspraak en diegene wat ‘n gebrek aan opvoeding het.
“Ek sien hoe ‘n gebrek aan opvoeding jongmense in Cloetesville raak met jongmense wat uit onkunde by bendes aansluit en hul lewe deur die bendes verloor.”
Jones het in 2017 met drag-optredes begin en dié fopdosser het geleer om self haar grimering te doen. Sy vertel haar deelnames het haar bemagtig laat voel en ‘n platform geskep waar sy trots in haar queer-identiteit kan wees .
“My voorbereiding vir MDSA2025 het my die moed gegee om meer te doen. Ek het tot die besef gekom ek moet meer moeite doen om ‘n leier vir die gemeenskap te wees – vir die jeug en vir die queer-gemeenskap.”
In ‘n poging vom meer vir die gemeenskap te doen, beplan Jones om opvoedkundige en mentorskap-programme te begin.
Kontak Jones per e-pos by [email protected] vir nog inligting of om te help.





