Moeilike jaar wag vir SA wynbedryf

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet voorberei vir nog ’n moeilike jaar terwyl plaaslike en internasionale klimate steeds baie onsekerheid veroorsaak.


Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet voorberei vir nog ’n moeilike jaar terwyl plaaslike en internasionale klimate steeds baie onsekerheid veroorsaak.

Sprekers by die 17de Nedbank-Vinpro-inligtingsdag met die tema “Connect & Grow”, wat verlede Donderdag (19 Januarie) in Kaapstad gehou is, was eerlik oor die dringende ekonomiese en landbou-realiteite wat die wynbedryf in die gesig staar, terwyl deelnemers aangemoedig is om hul verhoudings te benut ten einde die werklikheid te versag.

Nagenoeg 600 wynbedryfkundiges was by die geleentheid, wat vir die 16de jaar deur Nedbank geborg is.

“Dit is drie lang jare sedert mense in die bedryf persoonlik op hierdie skaal kon byeenkom, en as ek een ding in hierdie tyd geleer het, is dit gewis dat daar geen sekerheid in hierdie wêreld is nie,” het Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, gesê terwyl hy die noodsaaklikheid van mede-eienaarskap beklemtoon het.

SAKEBESTUUR in onrustige ekonomie

Die Nedbank-ekonoom Isaac Matshego het ’n somber prentjie van Suid-Afrika se ekonomie ná die pandemie geskets – dalende beleggings en vinnig stygende werkloosheid.

“Ons is tans in die ergste afswaai in ons geskiedenis,” het hy gesê en beklemtoon hierdie is “die langste en diepste afswaai met die swakste begin van ’n dekade in die onlangse geskiedenis”.

Volgehoue herstel is moeilik weens globale sowel as veral plaaslike omstandighede en sal verder deur voortdurende kragonderbrekings vertraag word. “Dit lyk asof fase 6-beurtkrag die norm vir 2023 sal wees. Ons het hierdie fase vanjaar meer as enige ander fase beleef. Die selftoegediende skade van beurtkrag aan die ekonomie sal beteken dat ons die internasionale beleggings wat van die wêreldwye ekonomiese opswaai in 2024 verwag word, kan misloop.

“Belegging bly swak weens lae sakevertroue. In vergelyking met ons eweknieë in die ontluikende mark het Suid-Afrika se inflasiekoers egter nie so vinnig opgeskiet nie en bly die Reserwebank daartoe verbind om inflasie te bestuur,” het Matshego afgesluit.

Wen in wyn

“Dit is tyd om die storm te bestuur wat ons as ’n bedryf in die gesig staar,” het die Vinpro-bestuurshoof, Rico Basson, gesê. “Ons word gekniehalter deur politieke ideologieë wat nie uitkomsgebaseerd is nie, beperkte aanspreeklikheid aanvaar en geen dringendheid het nie – en dit in ’n tyd waarin ons wêreldwye mededingers baie meer aggressief in hul uitvoering is.”

Die afgelope drie jaar het krisis op krisis opgelewer. Die wynbedryf moet stabiliteit binne die ontwrigting van die plaaslike en globale handel skep omdat dít die toekoms van Suid-Afrikaanse wyn bedreig. “Ons gaan aanhou om ons mededingendheid te verloor as ons nie nóú optree nie. Premiumisering is die sleutel tot ons herstel as bedryf, gegewe die groot kostedruk op wynkeldervlak en die realiteit dat nie alle bykomende koste deur die mark geabsorbeer sal kan word nie. Kostestygings op keldervlak sal ’n delikate balans moet wees.”

Na aanleiding van ’n bedryfstrategie, finansierings- en ondersteuningsdienste-hersieningsproses, het Basson gesê die bedryf beoog om die storie van Suid-Afrikaanse wyn te verander deur so veel as moontlik bedryfsdienste onder ’n enkele sambreel, bekend as SA Wine NPC, te konsolideer. Doelwitte van SA Wine sluit in die skepping van een stem vir die bedryf met die koördinering van alle aktiwiteite rondom ’n eenvormige bedryfstrategie, met een punt van aanspreeklikheid wat aan sy algehele strategie en behoeftes voldoen.

Kleiner wyndruifoes, baie uitdagings

Die 2023-oes sal na verwagting aansienlik kleiner as vorige jare wees met verskeie faktore wat tot die vierde laagste oes die afgelope 17 jaar gelei het.

“Hoewel voldoende besproeiing ná die oes in 2022 ten spyte van laer watervlakke gedoen is, het produsente voortgesette besproeiingsdruk weens beurtkrag ondervind,” het Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro-konsultasiedienste, gesê. “Bykomende infrastruktuurkoste vir permanente en mobiele dieselkragopwekkers was vir baie produsente ’n werklikheid.”

Droë en warm toestande gedurende die groeiseisoen het verdere druk bygevoeg, gesien in die ontwrigting van veral son- en sonbrandskade.

“Die enigste positiewe uit hierdie seisoen is dat ons ons ondernemings met bekwame wynbedryfpersoneel kan en moet verbind, aangesien maatskappye beter in verbintenis presteer.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.