Adendorffstraat in Idasvallei was Sondag ge-ys weens hael wat in die buurt geval het.Foto: Chrissey Petzer


Ry liewer Jan Tuisbly se karretjie hierdie week, en durf slegs die pad aan indien dit rêrig nodig is.

So maan die Suid-Afrikaanse Weerdiens weens die afgelope week se stormweertoestande.

Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit kom die Eersterivier sterk af, maar hou werk wat ná verlede jaar se oorstromings aan die rivier se walle gedoen is, nog. Die munisipaliteit het egter gewaarsku met die vlak 8-weerwaak wat vir vandag (Donderdag 11 Julie) uitgereik is, is die departement van infrastruktuur op sy hoede vir enige noodgevalle.

Die vlak 8-weerwaarskuwing oor ontwrigtende weer geld vir Stellenbosch, die Drakenstein-munisipale gebied asook die Kaapse metro. Sneeu, hael, stormweer en reën woed sedert die naweek nadat verskeie kouefronte vir die tweede agtereenvolgende week oor die provinsie uitgesak het. Volgens die weerdiens is 24 mm reën Maandag (9 Julie) in Jonkershoek gemeet.

Waarskuwings oor paaie wat oorstroom, oorstromings in informele nedersettings en moontlik skade aan infrastruktuur is ook uitgereik.

Eikestadnuus-lesers in Idasvallei het foto’s van wit strate en grasperke gedeel nadat hael in dele van die buurt geval het.

Damvlakke het die afgelope week gestyg. Teen Maandag was die Wes-Kaapse damme gemiddeld 74.1% vol.

Effense goeie nuus van die kragverskaffer Eskom is dat hy “voldoende opwekkings­kapasiteit het om elektrisiteit aan die land te voorsien”.

Teen Dinsdag was 13 000 huishoudings in die provinsie egter sonder krag te midde van die stormweer. Die betrokke streke het onder meer Ceres, Gouda en Houwhoek ingesluit. Eskom het gesê sy tegnici werk om die kragtoevoer te herstel.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het Dinsdag op sy beurt bevestig ten spyte van die stormweer het die meeste skole in die provinsie die nuwe skoolkwartaal sonder te veel probleme begin. Altesaam 82 skole het skade by die departement aangemeld, maar slegs vyf skole kon nie amptelik heropen nie. Veral skade aan dakke was onder die klagtes. Herstelwerk het reeds begin en waar nodig is alternatiewe reëlings getref om te verseker onderrig gaan voort. “Ons doen weer ’n beroep op gemeenskappe om nie valse inligting te versprei nie. [Maandag] was daar ’n aantal plasings op sosiale media wat aangedui het dat alle skole gesluit is, wat vals was. Ouers moet asseblief enige navrae direk aan hul skole rig, of die WKOD-mediablad vir opdaterings besoek,” het die departement in ’n verklaring gemaan. Intussen kan inwoners gereed maak vir nog koue en nat weer vir die res van die week. Vandag sal die kwik tot 17 °C styg. Vrydag is die maksimum 15 °C met reënweer en ’n maksimumtemperatuur van 14 °C wat vir Saterdag, Sondag en Maandag deur die weerdiens voorspel word.

You need to be Logged In to leave a comment.