Is daar moeras-sipresse op Stellenbosch waar daar geen moerasse is nie? Ja, hierdie boom (Eng.: swamp cypress) het die uitsonderlike eienskap – hoewel dit moerasse en nat grond verkies, kan dit in feitlik enige grond goed groei.
In die suidoostelike dele van die VSA, waar hulle vandaan kom, staan hulle soms in redelik diep water, maar in Stellenbosch staan ’n paar op ’n sypaadjie sonder enige besproeiing. Hulle groei stadig en word baie oud, en is veral bekend vir hul mooi herfskleure.
Die moeras-sipres (Taxodium distichum) is ’n naaldboom in die familie Cupressaceae, en word aan sy naaldvormige blare en klein groen keëls uitgeken. In teenstelling met ander naaldbome, soos sipresse en dennebome, verloor die moerassipres in koue wêrelddele al sy blare in die winter en word dit daar ook die bald cypress genoem.
Al staan die boom in water, kan stormwinde dit nie omwaai nie. Een verklaring daarvoor is die knoetsige uitstulpings tot bo die water wat die wortels versterk. Daar is ook baie ander bespiegeling oor die ontstaan en funksie van hierdie sogenaamde “knieë”, wat natuurlik nie by ons bome te sien is nie.
Pragtige voorbeelde van moerassipresse oral in Stellenbosch is die statige boom op die hoek van Dorpstraat en die R44 na Somerset-Wes, besonder grotes in die speelpark van die Jan Marais-natuurreservaat, een in die agterplaas van Rowanstraat 48 en twee nes jy oor die bruggie na die klubhuis by Coetzenburg ry, sowel as een aan alkant van die Craven-standbeeld.
In die verlenging van Bosmanstraat oor Banghoekweg na Akademia is ’n hele laning van hulle en by die Botaniese Tuin van die Universiteit Stellenbosch staan een in ’n pot wat lyk soos ’n reuse-bonsai.
Die moeras-sipres is werklik ’n sierlike boom, soos op die foto gesien kan word.