Na aanleiding van Jan Giliomee se berig (Eikestadnuus, 7 April) oor die dorp se moeras-sipresse (Taxodium distichum), is daar nog een van dié boomsoort waaraan ’n storie gekoppel word.

Dit is die boom voor Standard Bank, op die eiland bekend as die Klipkoppie (die driehoek tussen Meul-, Kerk- en Birdstraat), wat op die oomblik baie sleg lyk. Booswigte het die boom verlede jaar in die Kersvakansie verniel.

Met die eerste oogopslag kom dit voor asof die boom vergiftig is, maar van nader lyk dit asof basstropers dit beetgekry en toe aan die brand gesteek het. Wat ook al die oorsaak, ’n pragtige boom in die hart van ons dorp is doodgemaak.

Eerstens ’n bietjie agtergrond by ’n storie wat nog nooit vertel is nie. Daar is ’n verordening uit die jare vyftig wat nog nooit herroep is nie, wat bepaal dat slegs die Engelse (Europese) akkerbome (Quercus robur) in die geskiedkundige kern van die dorp op sypaadjies en openbare gebiede geplant mag word.

In die jare sewentig was dit duidelik dat daar probleme met swamsiektes met dié soort was en in die tyd van Piet Heunis as hoof van die betrokke munisipale departement, is Turkse akkerbome (Quercus cerris), ook bekend as Mos-eike, geplant. Later, in my tyd as voorsitter van die dorp se Boomadvieskomitee, het ek begin om Watereike (Quercus nigra) te plant. Hierdie is nog steeds akkerbome, maar dit was afwykings van die verordening.

Op ’n dag was ek met wyle Gert van Stade, destyds voorman van die munisipale boomspan, besig op die Klipkoppie met die plant van bome en beplanning om die akkerlaning weerskante van Kerkstraat te verleng tot oor Meulstraat.

Dié dag het Gert gemeld dat hulle twee moerassipresse tussen ’n besending akkerbome van die kwekery ontvang het, en hy vra toe waar ek graag die bome sou wou plant.

Gert sou enigiets doen wat ek vra en het baie klippe uit my pad gerol, maar toe ek antwoord “Net hier!” het sy oë gerol. Ek hoor vandag nog sy antwoord: “Nee, God, Prof, hulle sal ons afslag!”

Ek het hom gerus gestel, vertel dat die bome eendag pragtig daar sal vertoon en niemand sal dit eens agterkom, of iets te sê hê nie. Gert het gesorg dat die bome daar geplant is, en ek was reg, ek het nooit gehoor dat daar enige klagtes hoegenaamd was nie.

Die bome het baie verskillend gegroei en dit is die beter een van die twee wat in die feestyd vernietig is, net toe dit groot genoeg was en ’n pragtige bydrae tot die groenprag van die dorp begin maak het.


Prof. Brian Bredenkamp,

E-pos

You need to be Logged In to leave a comment.