Maretha Maartens het haar gehoor verlede Dinsdag by die ACVV Stellenbosch se oggendtee inspireer, bemoedig en aangemoedig om nooit moed te verloor nie.Foto:

Credit: SYSTEM

“Daar is vreugde in die voosheid.”

Met hierdie woorde het die geliefde skrywer Maretha Maartens verlede Dinsdag (1 November) die gehoor by ACVV Stellenbosch se oggendtee inspireer, bemoedig en aangemoedig om nooit moed te verloor nie.

Met verwysing na ’n onlangse ramp in Jagersfontein, waar grys slik die dorp verspoel het, het sy haar onderwerp ingelui met die vraag: “Was ons al ooit geestelik saamgesleur met slikgolwe en strome wat later so hard soos sement om ons droogword en waaruit dit voel ons nooit kan loskom nie; dat ons voos gestoei was in ons pogings om uit te kom?”

Hierdie voosheid, het sy gesê, is nie noodwendig as gevolg van eksterne faktore nie, maar eerder die gevolg van versteurde verhoudings – eerstens tussen mens en God, maar ook tussen die mens en sy naaste. Maartens het haar toehoorders aangespoor om verhoudings wat vertroebel is, te gaan regmaak om van die beklemmende slik te kan ontkom.

Volgens haar is dit noodsaaklik dat moeite gedoen moet word om respek vir mekaar te hê – om onvoorwaardelik om te gee vir mekaar en om saam te staan in liefde en diensbaarheid om sodoende gesinne, asook gemeenskappe, weer plekke van geborgenheid te maak.

Maartens het daarop gewys dat in die snelveranderende en korrupte wêreld die pad na hierdie uitkoms alleen in die persoon van Christus te vinde is. “In Hom is daar hoop en vreugde. Hy is die een wat diegene wat op Hom vertrou, nooit verlaat nie!”

Ná hierdie kosbare boodskap is gesellig rondom tee en verversings saamgekuier.

Die ACVV-bestuur het die geleentheid ná die lang onderbreking weens die Covid-19-inperkings gebruik om vriendskapsbande te smee en nuwe kennisse te ontmoet. Die voorsitter van die ACVV Stellenbosch, Leon de Villiers, het die ACVV se doel en visie van onderrig en opheffing by die geleentheid uitgelig. . Belangstellendes wat vrywillig by die ACVV betrokke wil raak, kan De Villiers by 082 788 3717 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.