Vier gewapende mans het Sondagoggend by Calnick-plaas in die Banhoek-omgewing in Groot Drakenstein toegeslaan.
Volgens sers. Julian Martin, ’n woordvoerder vir die Groot Drakenstein-polisie, het die mans die plaashuis omstreeks 01:00 bestorm. ’n Vrou, wat tydens die rooftog tuis was, is vasgebind terwyl die rowers haar van waardevolle items gesteel het.
“Die rowers het met skootrekenaars, ’n selfoon, klere asook ’n onbekende bedrag geld weggekom. Geen beserings is aangemeld nie.”
Sowat twee weke gelede – op 12 Junie – het ook vier gewapende mans ‘n gastehuis in Groot Drakenstein beroof. Die nagbestuurder van die gastehuis het die polisie in kennis gestel dat hulle van televisies beroof is.
By verdere ondersoek het beamptes op ’n man en vrou afgekom, wat in een van die kamers op die boonste vloer vasgebind is.
Hulle het aan die polisie gesê die vier gewapende mans het hulle vasgebind. Geen verdere leidrade kon ongelukkig opgespoor word nie omdat die gastehuis se kringtelevisie buite werking is.
“Ons ondersoek die moontlikheid dat dit dieselfde vier rowers is, aangesien al twee misdaadtonele naby aan mekaar is.
“Ons stel ook ondersoek in of enige verband tussen die twee voorvalle moontlik bestaan,” voeg Martin by.
Enigiemand met inligting wat die Groot Drakenstein-polisie met die ondersoek kan help en tot die verdagtes kan lei, word gevra om die polisie by 021 874 8000 te kontak.