‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n 86-jarige man in Stellenbosch het ao. Ruben Klassen, woordvoerder van die Stellenbosch-polisiekantoor, gister gesê.
Dit is nie seker wanneer die verdagte in die hof gaan verskyn nie.
‘n Lykskouing word vandag gedoen.
Nico Geldenhuys se lyk is Dinsdagoggend in sy woonstel by die Molenhof-aftreeoord oorkant die NG Stellenbosch-Wes gevind.
Die polisie se forensiese deskundiges het vir etlike ure Geldenhuys se huis vir leidrade gefynkam. Die pad voor die ouetehuis ook vir verkeer gesluit.
Geldenhuys se motor is skynbaar tydens die voorval gesteel, maar is gister deur die polisie opgespoor. Dit is nie seker of ander items uit die oorledene se huis gesteel is nie of hoe toegang tot die huis verkry is nie.
Geldenhuys se twee kinders, Nicol en Annamarie Zeelie, asook ander familielede was Dinsdag op die toneel.
Zeelie het gesê sy kon altyd op haar pa se nommer druk. “Hy het niemand leed aangedoen nie en het altyd ander gehelp waar hy kan. Sy dood is vir ons ’n groot skok.”
Geldenhuys het voorheen vir Avbob gewerk en het ook ’n huurmotor bedryf.
Zeelie het gesê die tragedie het die gesin swaar getref. “Ek weet nie of hy gely het of seergekry het nie. Waarom is die leed hom aangedoen? Die kleinkinders gaan hom verskriklik mis en was baie geheg aan hom.”
Ds. Almatine Leene van die NG kerk Stellenbosch-Wes, waar Geldenhuys voorheen koster was, het gesê hy was ’n meelewende mens en het alles vir sy mede-inwoners gedoen.
“As jy by hom verbygestap het, kon jy nooit wegkom nie – hy het altyd ’n geselsie aangeknoop. Niks was ooit te veel moeite vir hom nie. Hy het gereeld van sy mede-inwoners met sy motor geneem om inkopies te gaan doen of hulle selfs werk toe geneem. Ons is baie geskok oor wat gebeur het,” het sy gesê.
Daar is nog geen begrafnisreëlings getref nie.
Geldenhuys laat sy kinders, ’n skoonseun, ’n skoondogter en vier kleinkinders agter.