Die Stellenbosch-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n 55-jarige man Maandag in die vroeë oggendure in La Colline doodgeskiet is.
Die voorval het om 04:14 plaasgevind. Die omstandighede rakende die voorval is nog onbekend.
Volgens inligting is die slagoffer glo deur ’n man en vrou gesien wat alarm gemaak het dat daar by hul woning ingebreek is kort voor hy geskiet is.
Volgens ’n inwoner in die gebied, wat anoniem wil bly, het hulle ’n paar skote in die vroeë oggendure gehoor. “Ons het omstreeks 04:00 ’n paar skote gehoor en bekommerd geraak. Ons het uitgekyk, maar dit was nog donker en ons kon niks sien nie. Toe ons die volgende oggend opstaan, was die polisie voor AF Louw Primêr, waar ’n lyk gevind is. Ons was baie geskok,” het die inwoner gesê.
Intussen is ’n 50-jarige man omstreeks 14:30 dieselfde dag in hegtenis geneem vir die moord.
Die verdagte sal na verwagting vandag (24 Februarie) in die Stellenbosch-hof op aanklag van moord verskyn.
Die ondersoek duur voort.