Motoriste in en om Stellenbosch se sakekern word gemaan om op hul hoede te wees. Foto:


Drentel iemand om jou motor of loer selfs by die venster in? Laat weet die polisie.

Dít is die raad van Fidelity ADT wat sê voorvalle van inbrake by motors in Stellenbosch se sakekern neem toe. Verskeie gevalle van inbrake uit voertuie asook gevalle van grypaanvallesmash and grab is die afgelope weke aangemeld. Volgens die jongste misdaadstatistieke vir die derde kwartaal, gemeet tussen Oktober en Desember 2023, is Stellenbosch in die top-drie dorpe met inbrake in voertuie in die land.

In dié tydperk is 329 gevalle aangemeld. Hoewel dit ’n afname van 37 gevalle is teenoor dieselfde tydperk in 2022, is dit nie veel troos vir die inwoners wat daagliks deurloop nie.

“Ons deel gereeld inligting met ons kollegas in die polisie en wetstoepassingsowerhede om beter teen misdaadneigings in die dorp op te tree,” verduidelik Charnel Hattingh, Fidelity Service se groephoof van kommunikasie en bemarking.

“Gebaseer op wat op die vergaderings gedeel word, is ’n aantal voertuie geteiken.”

Sy maan inwoners om nooit waardevolle artikels oornag in voertuie te laat nie en motors op plekke te parkeer waar daar genoeg lig en beweging is.

“Maak seker jou motor is gesluit en wees bedag op enige verdagte beweging in die gebied. Indien dit lyk of iemand naby geparkeerde voertuie ronddrentel, stel ons voor jy kontak die polisie of jou plaaslike buurtwag sodat iemand ondersoek kan instel.”

Só mismoedig was een plaaslike student dat hy onlangs op die karton wat sy stukkende motorvenster bedek, geskryf het dat skelms liefs nie wéér by die motor moet inbreek nie aangesien hy “genoeg” die afgelope ruk moes meemaak. ’n Video van die “kennisgewing” is op ’n plaaslike Instagram-plasing te sien.

Hattingh raai inwoners aan om enige verdagte gebeure aan te meld, selfs al kon vermeende kwaaddoeners nie daarin slaag om by ’n voertuig in te breek nie. Sy vertel dit help nie net om kwaaddoeners af te skrik nie, maar help ook die polisie om meer akkurate misdaadstatistieke saam te stel. “Selfs al is niks gesteel nie moet ons weet om beter en meer doeltref­fend op misdaad te reageer,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.