Giniel de Villiers staan en dink diep tydens ’n stop van die 2024-Dakar-veldtydren. Foto: Jiri Simecek/MCH Photos


Stellenbosch se wêreldbekende veldtydrenjaer, Giniel de Villiers, hou steeds kop bo water in die stormagtige see van sandduine, skeurvalleie, tweespoorpaadjies besaai met klippe en vinnige grondpaaie op pad na die eindpunt van sy 21ste Dakar-veldtydren.

De Villiers en sy navigator, Dennis Murphy, het ’n uitdagende eerste week gehad en die rusdag ná ses van die 2024-byeenkoms se 12 sneltrajekte net-net buite die top-10 in die Saoediese hoofstad deurgebring terwyl hy en sy spanmaats se Toyota Gazoo Racing-Hilux’e geheel en al herbou is.

Die tweede week het Sondag (14 Januarie) met nog ’n strawwe sneltrajek begin en is sedertdien elke dag deur hoofsaaklik navigasie-uitdagings gekenmerk – met die grootste terugslag Dinsdag, toe hulle een navigasiepunt misgery en amper 20 minute aan die voorjaers afgestaan het op soek na ’n tweede punt waar hulle moes aanmeld.

“Dit was eintlik nogal ’n pragtige sneltrajek,” het dié jaer doer in die woestyn – ’n plek in absolute teenstelling met Stellenbosch – gesê.

“Alles het tot so 260 km goed gegaan totdat ons ’n navigasiepunt gemis het. Ons het die volgende een geaktiveer voordat ons kon omdraai, dus kon ons nie teruggaan en dit soek nie. Ons het natuurlik boetetyd daarvoor gekry, wat ons algehele posisie geknou het.”

Altesaam 15 minute is by De Villiers-hulle se rentyd tot aan die einde van Sneltrajek 9 gevoeg, wat hulle tot agtste algeheel laat terugsak het.

“Ons het daarna boonop ’n pap band gehad, en die daaropvolgende navigasiepunt was ook moeilik. Ons het nog 10 tot 15 minute daar verloor om daardie punt op te spoor, dus was dit uiteindelik glad nie so ’n goeie sneltrajek nie.”

Hoewel De Villiers in die algehele rangorde teruggesak het, is hy steeds onder die voorste 10 met nog net drie sneltrajekte oor.

Dit vul sy Dakar-rekord goed aan as hy die eindpunt haal – hy het nog elk van die 20 renne waaraan hy sedert 2003 deelgeneem het, voltooi – net een (2007) buite die top-10; 15 keer onder die topvyf (hy het die ren in 2009 gewen) en in die res tussen sewende en 10de geëindig.

De Villiers het sy eerste Dakar-veldtydren – destyds vir Nissan – in 2003 aangedurf en terstond vyfde geëindig. Hy het nog twee jaar vir Nissan gejaag (sewende en vierde) en in 2006 na Volkswagen oorgeskuif, waar hy met die intrapslag die naaswenner was.

Die Stellenbosser het sy eerste en tot dusver enigste Dakar-oorwinning in 2009 vir VW aangeteken, waarna hy van 2012 af in die Toyota-kamp was. Buiten een ren wat weens terreur in Afrika in 2008 nie plaasgevind het nie, was hy in die res van sy Dakar-deelname telkens onder die top-10 en 15 keer onder die topvyf.

  • Sy beste vir Toyota was twee tweede plekke in 2013 en 2015 nadat hy in 2006 ook vir VW naaswenner was. Die 2024-Dakar-veldtydren eindig Vrydag (19 Januarie) en De Villiers en sy TGR-spanmaats word die naweek in SA terug verwag.

You need to be Logged In to leave a comment.