Motorsport: Giniel wen vierde Suid-Afrikaanse veldrenkampioenskap

Suid-Afrika se eie “Mnr. Dakar”, Giniel de Villiers, het dit weer reggekry. Giniel, wat vir die Toyota Gazoo Racing-renspan (TGRSA) jaag, het Saterdag (12 November) sy vierde Suid-Afrikaanse veldrenkampioenskap gewen.


Suid-Afrika se eie “Mnr. Dakar”, Giniel de Villiers, het dit weer reggekry.

Giniel, wat vir die Toyota Gazoo Racing-renspan (TGRSA) jaag, het Saterdag (12 November) sy vierde Suid-Afrikaanse veldrenkampioenskap gewen.

Die oorwinning was ’n gepaste afsluiting vir die jaar waarin dié Stellenbosser sy 50ste verjaarsdag gevier het.

“Dit was maar ’n modderige affêre,” het De Villiers van die naweek se dubbele eindronde (twee renne in een) gesê.

“Ek en Henk (Lategan, die verdedigende 2021-veldrenkampioen) was tot die heel laaste byeenkoms van die seisoen, die Parys-400-veldtydren wat Vrydag en Saterdag aan die beurt gekom het, kop aan kop in die kampioenskap. Ten spyte van die feit dat ons spanmaats in die TGRSA-span is, het ons geen spanopdragte gehad behalwe om ons bes te doen nie. Henk het Vrydag se voorlaaste ren gewen, en ek was tweede. So, alles het van Saterdag se heel laaste ronde van die jaar afgehang.”

Die voortdurende reën in die noordelike dele van die land het Vrydag reeds amok gemaak toe die tweede helfte van die dag se ren weens die bykans onmoontlike toestande kortgeknip is. Die reën het Vrydagnag voortgeduur en niks goeds vir die dag voorspel nie.

Lategan het egter langs die pad in die modder agtergebly, en De Villiers het die einde gehaal – weer as naaswenner vir die dag. Dit was genoeg om die kampioenskap te wen.

“Dit was maar ’n modderige affêre,” het De Villiers oor die naweek se dubbele eindronde (twee renne in een) gesê.Foto: TGRSA/Waldo van der Waal

“Dit was maar ’n moeilike seisoen. Ons het in haas elke ren ook nuwe komponente vir die komende Dakar-veldtydren op die proef gestel, en ons bestendige vertoning regdeur die seisoen het uiteindelik die deurslag gegee,” het ’n beskeie De Villiers gesê.

Op ’n vraag wat anders hy vir ’n lewe doen behalwe in die bosse rondjaag, sê hy: “Ek doen my bes. Ek besit ’n paar eiendomme wat ek bestuur en verhuur, maar fokus op veldrenne.”

De Villiers hou hom fiks deur onder andere bergfiets te ry wanneer die tyd dit toelaat.

“My motorsport vat baie tyd – veral toetswerk. En ons doen gereeld ander goed, soos die Fortuner-uitdaging waarvan ek hierdie jaar deel was, maar ek het my kuit beseer en kon dus nie self ry nie.”

Hoewel die 2022-seisoen nou agter die rug is, is die jaar nog ver van verby vir De Villiers.

“Ons het nou baie toetswerk vir die komende Dakar-veldtydren in Januarie. Ek is nou hierdie week by die huis, dan gaan ons ’n paar TV-advertensies in Johannesburg maak. Daarna gaan die hele TGRSA-span ons Dakar-voertuie vir ’n week lank in Walvisbaai toets. Dan kry ons ’n ruskans om te gaan vakansie hou, en op 26 Desember vlieg ons Saoedi-Arabië toe vir die 2023-Dakar-veldtydren, wat op 2 Januarie begin.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.