Die Motsepe-stigting het verlede Donderdag (16 Februarie) bykans R1 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch se Studenteraad (SR) geskenk om studente hul historiese skuld te help afbetaal.
William Sezoe, ondervoorsitter van die SR, het die tjek vir R800 000 verlede week by ’n geleentheid in Johannesburg ontvang, waar die stigting ook aan talle ander universiteite donasies gegee het.
“Vanjaar het sowat 562 studente aan die deur van die US se SR geklop vir hulp met historiese skuld, wat die totale skuld van studente op meer as R20 miljoen gebring het. Met die hulp van die US se Alumni Netwerke kon die SR saam met sy institusionele komitee, Student Debt Working Group (SDWG), sowat R3,4 miljoen insamel,” het Sezoe gesê.
Hy sê die SR verwelkom hierdie broodnodige donasie van die Motsepe-stigting “aangesien dit ons kan help om meer studente te help”.
“Ons werk hou natuurlik nie hier op nie; die SR is tans besig om aan ’n paar geldinsamelingsprojekte te werk om meer geld in te samel.
“Hiermee wil ons seker maak dat elke student wat akademies goed presteer het die geleentheid kry om weer terug in die stelsel te kom.”
Sezoe sê die SR glo dat finansiële uitdagings glad nie studente moet keer om gehalte-hoëronderwys te ontvang nie.