’n Brand wat verlede maand die lewe van twee mense geëis het, het hernude kwessies en vrae by inwoners van die Mountainview- informele nedersetting in Jamestown laat ontstaan.
Die traumatiese voorval het Dinsdag 10 Oktober in die vroeë oggendure plaasgevind en die lewe van Mario Skippers (40) en Palesa Kali (31) geëis (“2 sterf vlammedood”, Eikestadnuus, 12 Oktober). Dit was die vyfde brand wat die afgelope 10 maande in dié woonbuurt uitgebreek het, maar die eerste noodlottige voorval.
Nou eis inwoners antwoorde van die Stellenbosch-munisipaliteit oor die status van fase twee van die aangrensende behuisingsprojek. Hulle deel ook hul kommer oor ’n vermeende gebrek aan munisipale dienslewering in die informele nedersetting.
Volgens Christiaan Hartzenburg is fase 1 van die ontwikkeling in 2017 voltooi, met 160 eenhede wat gebou is. Hartzenburg, toe ’n gemeenskapsleier, was een van die begunstigdes.
“Werk aan die tweede fase moes al begin het, maar daar is glo nie vir die projek begroot nie. Die Covid-19-pandemie het ook tot die vertraging bygedra,” verduidelik hy.
“Dit is ’n vergete gemeenskap, wat nie ordentlike dienste van die munisipaliteit kry nie.”
Christelene Rudolph is werkloos en woon die afgelope 18 jaar in die gebied. Haar eenvertrekhuisie het in 2019 tot op die grond afgebrand en sy het alles verloor. Die dak van haar huis het in 2021 inmekaargeval.
Met die onlangse brand moes Rudolph en haar kêrel keer dat hul aangrensend hok nie ook aan die brand raak nie.
“Ons leef in haglike toestande en ons gesondheid ly daaronder. As dit reën, is alles in my plek sopnat, en ek het al twee keer TB gekry,” sê sy.
Inwoners in die gebied waar die noodlottige brand uitgebreek het, is sedert ’n vorige brand aan die einde van Julie sonder krag. Die kragtoevoer tot die groepie hokke is nie herstel nie en inwoners maak gebruik van gasstowe en buitelugvure om te kook. Kerse bied die enigste vorm van lig in die aande. Hulle maak ook gebruik van een gemeenskaplike kraan.
Maria Rudolph se woning is een van drie in ’n ou voorafvervaardigde struktuur wat eens as behuising vir plaaswerkers gebruik is. Sy woon al 20 jaar hier en is vir jare al op die behuisingswaglys.
Volgens haar is daar ’n algemene gebrek aan dienslewering. Sy voer aan dat die gras op ’n nabye stuk grond nie gesny word nie, skoon water by ’n stukkende kraan “soos ’n rivier” vloei en vullis by die gemeenskaplike drom ophoop.
Maria se voordeur is 2 meter van die tydelike toilet wat deur sewe huishoudings gebruik word. “Dis ’n ondraaglike reuk wat hier inwaai – veral in die somer. Die toilet word slegs oor ’n week skoongemaak. Geen mens kan so lewe nie.”
Die 59-jarige Bettie Vermeulen en 52-jarige Marque Bantham se plekkies het ook al amper afgebrand. Hulle is ook op die waglys en hoop dat die munisipaliteit dit intussen sal oorweeg om beter strukture vir hulle op te rig.
Die grootste begeerte van ’n moedelose Charmaine Adriaanse is om ’n regte huis te kry. Sy woon die afgelope 20 jaar in die gebied en het getrou al die vergaderings oor die behuisingsprojek bygewoon.
“Ons lewe in vrees dat ons plekke gaan afbrand. Ons verlang huise en is moeg van so bly,” sê sy.
“Mense hier is werkloos en kan nie bekostig om hul plekkies reg te maak nie – dis ’n duur storie. Ons vra dat die munisipaliteit ons help om ons plekke reg te maak of vir ons huise gee.”
Volgens ’n gemeenskapswerker, Wilma Adams, word nuwe strukture gereeld deur die munisipaliteit in dié gemeenskap opgerig. Sy meen die grond is nie geskik vir behuising nie, daarom is hier gereeld brande.
Byna ’n week ná die brandvoorval is nog ’n Wendyhuis hier opgerig.
Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, het bevestig een struktuur is Maandag 16 Oktober opgerig.
“Een struktuur is deur die munisipaliteit opgerig vir ’n gesin in terme van ons noodbehuisingsbeleid en ’n hofbevel. Die betrokke stuk grond behoort aan die munisipaliteit,” verduidelik hy.
“Gedurende 2008 het die munisipale raad besluit, as deel van die behuisingsplan en volgens die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk, om ’n gedeelte van die grond beskikbaar te stel vir behuising, na gelang van die groot behuisingsnood in die gebied. Die eerste fase wat vir formele behuising soneer is, beloop 162 wonings.”
Grobbelaar sê die munisipaliteit het planne om die tweede en derde fase van die behuisingsprojek voort te sit.
“Die gedeeltes, soos dit bekend staan as fase 2 en 3 (Mountainview/Jamestown), is inderdaad in ’n hersoneringproses. Die voorgestelde hersonering is geadverteer vir openbare deelname en kommentare is ontvang,” sê hy.
“Hierdie kommentare word tans deur die beplanningsdepartement hanteer.
“Insette van die publiek word noukeurig na gekyk en kommentaar word gelewer op die navrae wanneer die aansoek voor die munisipale beplanningstribunaal verskyn.”
Dit is onduidelik wanneer die uitkoms van die proses bekend sal wees en wanneer werk aan die laaste twee fases sal begin.