Flappe van dakke wat waai, geisers wat lek en vensters wat die windjie inlaat, is van die klagte wat inwoners van The Steps in Cloetesville opper.
Inwoners wat vir langer as twee dekades in dié behuisingsprojek woon, sê hulle is moeg gekla by die Stellenbosch-munisipaliteit oor als wat by hul wonings fout is.
Michael Fredericks vertel hy en sy gesin is van die gelukkiger inwoners omdat hy handvaardig is en self herstelwerk kan doen as iets fout is. Hy is egter nie bereid om sekere take aan te pak nie en verwag die munisipaliteit moet sy verantwoordelikheid nakom.
“ ’n Ruk gelede het die wind vreeslik gewaai en ‘n gedeelte van die dak het losgekom . . . Niemand het nog uitgekom om dit reg te maak nie,” sê Fredericks.
Hy sê dit is ‘n maand sedert hy ‘n amptelike klagte oor die dak ingedien het, maar hy het nog geen terugvoer oor die nodige herstelwerk ontvang nie.
Ander inwoners het egter nie die vaardigheid of die geld om self herstelwerk aan hul tweeverdieping-skakelhuise te doen nie.
Rose Williams (78) was een van die eerste inwoners wat langer as twee dekades gelede by die munisipale behuisingsprojek ingetrek het. Sy het saam met haar man, Stemmer, gewoon, maar hy is twee jaar gelede oorlede.
Williams sê sy kan nie bekostig om self haar lekkende geiser te vervang nie.
“Ek is so bang, want die kragprop is reg langs die geiser en die ding lek gereeld . . . Ek het net my pensioengeldjies. Ek kan nie bekostig om self die geiser te vervang nie. Wanneer jy die hulpnommer op die geiser bel, dan stuur hulle jou terug na die munisipaliteit,” sê sy.

Fredericks sê etlike inwoners kan nie meer hul geisers gebruik nie, aangesien hulle so erg lek en ‘n gevaar inhou.
Maria “Ellie” Fredericks, Fredericks se suster, is ‘n gemeenskapswerker en sê die munisipaliteit is vertroud met Williams se probleme, maar dit word nooit opgelos nie.
“In elke geïntegreerde ontwikkelings- plan-vergadering word Ouma Rose se naam genoem. Sy het al soveel keer in trane van haar probleme vertel en dan belowe die munisipaliteit hoog en laag hulle stuur die volgende dag iemand uit om te kyk.
“Hier wag ons nou nog vir iemand om op te daag. Hoeveel angsaanvalle het die arme vrou nie al gekry nie?” vra Ellie.
Volgens die munisipaliteit vorder die eiendomsoordragte van die eienaarskapgebaseerde subsidieprogram met 80% van koopaktes wat reeds onderteken is.
Ellie meen egter die Stellenbosch-munisipaliteit wil sy probleme aan inwoners “afsmeer” deur die titelaktes vir die wonings oor te gee voordat herstelwerk gedoen word.
“Hulle druk ‘n dokument onder die bejaardes se neus en sê ‘teken hier’. Die mense weet nie van beter nie, want al wat hulle hoor, is dat die eiendom dan hulle s’n sal wees.
“Maar die oomblik wat hulle die eienaars word, word die onkoste van die probleme ook hulle s’n, terwyl die munisipaliteit niks aan die saak gedoen het nie.”
By navraag het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, verduidelik enige instandhoudingswerk aan die wonings is vir die inwoners se eie sak.
“Behalwe in die geval van natuurrampe waar eise van versekering ingedien kan word vir huise wat nog nie oorgedra is nie. Vir subsidie-huise wat reeds oorgedra is, word skade-eise na die nasionale departement van menslike nedersetting verwys,” sê Grobbelaar.
Hy voeg by die oordrag van eienaar- skap van die huise is aan die gang, met die munisipale behuisingsdepartement wat dit behartig. Deel van die oordrag is om inwoners bewus te maak van hul verantwoordelikhede ten opsigte van die huise.
Ander klagtes van inwoners van The Steps sluit in swak bouwerk wat glo lekkende vensters beteken. Van die lekkasies is glo so erg dat inwoners se elektritsiteitsbokse nat word. Hulle gebruik dan nie elektrisiteit nie uit vrees dat hulle geskok sal word.
Ellie sê dit gaan haar verstand te bowe dat iemand die behuisingsprojek afgeteken en besluit het dit is geskik om in te woon.
Volgens die munisipaliteit is Tops Construction in Januarie 2020 aangewys om herstelwerk in al die The Steps-wonings te doen. Die projek is in Junie 2024 voltooi.
Grobbelaar sê die nuwe eienaars het, ná ‘n deeglike ondersoek van die wonings, “happy letters” onderteken nadat ooreengekom is dat alle klein jakkalsies afgehandel is.
Probleme is voor die teken van die briewe afgehandel. Die munisipaliteit raai inwoners aan om behuisingsprobleme aan die departement van behuisingsadministrasie te stuur.
Die munisipaliteit het versuim om enige terugvoer oor inwoners se geisers en die bewerings van lekkasies te gee.
You must be logged in to post a comment.