Jeremy Fasser, burgemeester van Stellenbosch.
Jeremy Fasser, burgemeester van Stellenbosch.

“Ons wil ‘n opbrengs op ons belegging hê.”

Dit was Dinsdag 14 Oktober die sentiment van die opposisie op ‘n spesiale raadsvergadering van die Stellenbosch-munisipale raad.

Raadslede het vandeesweek bymekaargekom om goedkeuring te gee vir die raadslid Stephanie Heneke en Charl Kitching, senior bestuurder van beskermingsdienste, wat deur die Strong Cities Network na die Sesde Wêreldberaad in Toronto, Kanada van 9 tot 11 Desember, genooi is.

Burgemeester Jeremy Fasser het die uitnodiging van die hand gewys en Heneke, wat die burgemeesterskomiteelid vir beskermingsdienste is, voorgestel om in sy plek te gaan.

“In beginsel ondersteun ons hierdie besoek gegewe die veiligheid van ons gemeenskappe en dit is iets wat waarde kan toevoeg. Dit is egter belangrik dat ons ‘n opbrengs op die R50 000-belegging ontvang,” het die ACDP-raadslid Otniel Jooste verduidelik.

Die munisipaliteit het ‘n uitnodiging vir beide Fasser en Kitching ontvang. Hoewel die organisasie die koste van een persoon dek, sal die munisipaliteit moet opdok vir die tweede beampte se reisuitgawes. Hiermee saam sal die twee ook ‘n daaglikse toelaag ontvang.

Die Stellenbosch-munisipaliteit is sedert Julie 2019 lid van die Strong Cities-netwerk. Die organisasie werk om kennis te deel oor misdaadbekamping.

Gemeenskapsveiligheid en welstand; teenwerking van haat en aanlyn skade; ekonomiese en digitale inklusiwiteit; versterking van nasionale-plaaslike samewerking; en die bou van Stellenbosch se internasionale profiel is op die sakelys vir die Desember-sessie.

Volgens die munisipaliteit bied die besoek ‘n geleentheid om onder meer oor “vernuwende veiligheidsoplossings” te leer.

Die GOOD-party meen egter daar is geen rede om ‘n tweede beampte na die Desember-geleentheid te stuur nie, maar die raad het uiteindelik die reis met 35 uit 39 stemme goedgekeur.

You need to be Logged In to leave a comment.