Libra stel sewe afloswerkers vir sewe biblioteke aan om te sorg dat ingeval een van die vaste personeel siek is of die dag nie kan werk nie, daar iemand sal wees om die werker se plek in te neem.

Werk word vir die werkers beloof en bevestig in hulle kontrak dat indien daar nie afloswerk is nie, hulle ander werk kan doen teen dieselfde vergoeding per uur.

Die kontrak wat hulle sluit met die munisipaliteit beloof dus werk, maar verbied hulle om ander werk teen vergoeding te doen, selfs buite biblioteek-ure.

Die eerste maand wat die werkers werk, word almal oorbetaal terwyl die betalings wat hulle moes kry reeds bekend was. Alle terugbetalings moes inbetaal word in ’n spesiale ABSA-rekening. Dit klink baie na ’n geldwassery.

Die sewe afloswerkers wat aangestel is om die sewe biblioteke te bedien, is ’n oorgetal. Dit kan eerder verwag word dat drie of vier per dag nodig kan wees. Dit word ook bevestig deurdat werker nr. 7 nooit afloswerk gekry het nie en vir vyf maande niks betaal is nie.

Die eerste maand is sy net na al die biblioteke geneem om met hul aktiwiteite kennis te maak. Daarvoor is sy R520 betaal. Toe sy ná drie maande nog niks betaal is nie, het sy hard probeer om in die vierde maand haar ontslag te kry maar was nog steeds op die munisipaliteit se diensstaat. Dus vir vyf maande op die munisipaliteit se diensstaat is sy slegs R520 betaal. Wat ’n skande vir die munisipaliteit!

Die munisipaliteit se skandes strek verder omdat sogenaamde oorbetalings vir nr. 7 geheim gehou is vir 11 maande en sewe maande ná haar uittrede. Toe word sy verras met ’n rekening van R11 365,17 sonder enige verduideliking hoe die bedrag saamgestel is.

Op ’n skriftelike versoek vir ’n verduideliking van die bedrag kry sy net nog ’n rekening met ’n dreigement om te betaal of die hof sal gevra word om dit van haar af te pers. Dit is nou al meer as 15 maande dat sy gedreig word met die hof en die munisipaliteit is te bang om hof toe te gaan, maar gaan voort om haar te teister met die rekeninge in die hoop dat sy sal swig.

GF LOEDOLFF,

STELLENBOSCH
Munisipaliteit vir kommentaar genader, met ter perse gaan nog nie ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.