Die Stellenbosch-munisipaliteit het Vrydagoggend 1 April aangekondig dat hy beveel is om alle indringerbome in Victoriastraat te verwyder.
Dié aankondiging het vinnig gemengde reaksie uitgelok. Helaas was dit net ’n April gekkedag grappie van die munisipaliteit.
In die aankondiging op Facebook skryf die munisipaliteit hy is beveel om alle indringerbome in Victoriastraat te verwyder en verwys dan na ’n skakel vir die volledige verklaring. Die skakel neem jou egter na ’n aankondiging van die Visit Stellenbosch projek saam met vroue van Kayamandi.
“Visit Stellenbosch werk saam met vroue in Kayamandi wat plastiekbroodsakkies in pragtige hergebruikte produkte hekel. Elke produk wat verkoop word, sal ’n gesin help om brood op die tafel te sit en net een hergebruikte produk neem talle plastieksakke uit ons riviere, oseane en stortingsterreine,” lui die verklaring.
Inwoners het egter vinnig agter die kap van die byl gekom en lekker saam gelag.
“Julle het my sekerlik uitgevang… Ek was gereed om julle ’n mondvol te gee met een of twee oproepe, totdat ek die verklaring gelees het,” het Jason Jay Claasen geskryf.
Johann Fölscher Potgieter het geskryf hy het vir ’n oomblik gedink dit het iets te doen met die boorkewers. Kom ons hoop dit word nie ’n werklikheid nie.”
“Julle het my!” het Tercia Stellenberg geskryf.