Stellenbosch-munisipaliteit sê hy is stomgeslaan en verwerp die Openbare Beskermer (OB) se bevindings dat twee senior munisipale amptenare onreëlmatig aangestel is en sê die OB fouteer in die feite waarop die voorgestelde bevindinge gemaak is.
Dit volg ná ’n verslag wat Woensdag 30 Maart deur die OB bekendgestel is wat bevind dat die aanstellings van Annelene de Beer (bestuurder: strategiese en korporatiewe dienste) en Kevin Carolus (finansiële hoof) onreëlmatig was.
“Die munisipaliteit het uitgebreide antwoorde en insette aan die OB verskaf waarop ons geen terugvoer ontvang het nie. Daar moet ook kennis geneem word dat hierdie beweerde onreëlmatige aanstellings spruit uit ’n klag wat deur ’n gegriefde oudraadslid ingedien is,” het die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, Donderdag (31 Maart) in ’n verklaring gesê.
Die klagte is op 29 Mei 2019 deur Franklin Adams, voormalige raadslid en leier van die Democratic New Civic Association (DNCA), ingedien.
Die klag was dat De Beer deur die vorige munisipale bestuurder en raad vir ’n 10 jaar-kontrak aangestel is ten spyte daarvan dat die pos vir 5 jaar geadverteer was en nie binne die voorgeskrewe tydperk onderhandel is nie. Ook dat Carolus se pos wat eers as ’n 10 jaar-pos geadverteer is, later na ’n permanente pos verander is onregverdig was.
Adv. Busisiwe Mkhwebane sê in die OB se verslag dat die tydperk van 30 dae waarop die raad besluit het die suksesvolle kandidaat, vir die pos van direkteur: strategiese en korporatiewe dienste, moes aanvaar of in finale kontrak moes tree, indien nie moes die pos heradverteer word, het lankal verval toe die raad die besluit teruggetrek het.
“Omdat die pos moes heradverteer word, het die toe munisipale bestuurder nie die reg gehad om in ’n geskrewe aanstellingskontrak met De Beer op 29 April 2017 aan te gaan nie. De Beer se aanstelling is daarom onreëlmatig in stryd met wetgewing.”
“Die besluit van die raad om die diensvoorwaardes vir die pos van finansiële hoof van ’n 10 jaar-kontrak tot permanent te verander ná ’n aanbod gemaak is aan Carolus, was onbehoorlik. Dit het ander voornemende kandidate benadeel wat aansoek sou gedoen het as hulle geweet het dat die ampstermyn buigsaam was en dit moontlik sou wees om te verander, selfs na ’n permanente aanstelling. Gevolglik was Carolus se aanstelling dus prosedureel onbillik en in stryd met wetgewing,” het Mkhwebane gesê.
Mettler sê egter die aangeleentheid van die aanstelling van die direkteur van strategiese en korporatiewe dienste dateer uit 2016 en “daar is herhaaldelik bevind dat dit niks meer as ’n ongegronde aanval op die amptenaar in hierdie pos is nie. Die redes wat die OB geopper het oor hoekom ’n klag van meer as twee jaar oud teen die finansiële hoof ondersoek word, is swak, onoortuigend en vertoon nie spesiale omstandighede nie.”
Sy voeg by dat die munisipaliteit skoon en ongekwalifiseerde oudits ontvang het en enorme vordering gemaak het in die onderskeie direktorate onder leiding van die twee aangesteldes en die munisipale bestuurder.
“Verder het die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OGSA) die proses van die aanstelling van die direkteur van strategiese en korporatiewe dienste geoudit en geen onreëlmatighede of teenstrydighede met die proses gevind nie. Die OGSA kyk in elke jaarlikse oudit spesifiek na aanstellings van die artikel 56-bestuurders en het nie een keer bevind dat die proses onbehoorlik of onreëlmatig is nie.
“Die OGSA het deurgaans oor die afgelope termyn aan die raad en bestuur die versekering gegee dat die interne ouditprosedures en die ouditkomitee hul mandaat ingevolge Artikels 165 en 166 van die MFMA uitgevoer het en dat beide versekering verskaf oor raadstelsels van interne beheer,” sê Mettler.
“Stellenbosch-munisipaliteit is trots daarop om ’n instelling te wees wat die wet volg en, soos konsekwent bewys is oor die jare van die bestuur van ’n skoon en hoogs doeltreffende regering, het die raad ’n geen verdraagsaamheid-benadering ten opsigte van enige vorm van wanadministrasie of onreëlmatigheid,” sluit sy af in die verklaring.