Meer as ses dekades nadat die Hugenote-gedenkmuseum gestig is, het dié museum nou amptelik ’n groep vriende.
Die Vriende van die Hugenote-gedenkmuseum is onlangs op die been gebring en die museum is opgewonde om die groep vrywilligers te hê wat onder meer bemarking en geldinsamelings sal behartig.
Volgens Ingrid Maritz, voorsitter van die Vriende van die Hugenote-gedenkmuseum, is die missie en visie van die groep om meer betrokkenheid te skep en meer besoekers na die museumkompleks in Franschhoek te lok.
“Die Vriende van die Hugenote-gedenkmuseum is vir almal wat ’n belang en erns het in die plaaslike erfenis en geskiedenis van die dorp. Die Vriende beoog om wyd uit te kring, met die vertrekpunt by die veelsydige identiteite van die inwoners van die dorp – Suid-Afrikaanse burgers, buitelandse inwoners asook die omliggende gemeenskappe in die groter Franschhoekvallei,” verduidelik sy.
Anita du Preez, museumbestuurder van Hugenote-gedenkmuseum, sê sy is opgewonde oor die groep se aanwins tot die museum.
“Dit is die eerste keer in die museum se 64 jaar dat ons ’n Vriende-groep het,” verduidelik Du Preez.
Soortgelyke groepe verbonde aan die Stellenbosch- en Pniël-museums behartig verskeie projekte vir hul museum en help uiteindelik om meer voete in die deure te kry. Nou het die Franschhoek-museum sy eie kampvegters in die vorm van Mynie Johnson, Stephanie Els, Sharon Maytham en Maritz.
Maritz sê die bestuurskomitee is vandeesmaand gestig. “Die hoop is om soveel as moontlik mense, instansies en ondernemings betrokke te maak. Daar is nie voorskrifte vir vriende nie, solank ons ’n gemene deler het om die museum te ondersteun,” meen sy. Nes talle ander geskiedkundige instansies raak museums al hoe meer afhanklik van eksterne finansiële steun weens besnoeiing van die staatskas wat museumbegrotings al hoe meer afskaal. Die Vriende poog nou om hande te vat met hul plaaslike museum.
Die Vriende sê die belangrikheid van behoudenis moenie onderskat word nie.
“Hoe sal ons, wat hier woon en werk, wat hier gebore is, ons lewe in die Franschhoekvallei kan voorstel sonder enige terugverwysing, van hoe, waar en wanneer ons storie begin het?
“Hoe kan ons opgewonde en trots wees as ons geskiedenis, ons erfenis, ons voorouers se opofferings, harde werk van paaie wat letterlik en figuurlik uitgekap is, as ons niks daarvan weet nie?”
Maritz sê dit is in museums waar die stories opgeteken en bewaar word, sodat dit behoue bly en oorvertel kan word.
Om ’n dorp se geskiedenis neer te pen en te bewaar, beteken ook mense verstaan mekaar en het meer begrip vir mekaar deur stories te deel, meen die Vriende.
“Museums het ’n onvervangbare plek in elke dorp, en dit is die plig van elke inwoner wat ’n storie het om te help dat museums met trots en toewyding in stand gehou word. Dis nou die tyd dat museums beskou word as ’n plek met ’n hartklop.”
- Enigeen wat belangstel om lid te word en/of wil betrokke raak, kan 072 226 9158 skakel.