Die openingsaand van die Stellenbosch- internasionale kamermusiekfees (SIKMF) sluit in ‘n kenmerkende pers-tapyt-funksie voor die openingskonsert in wat nou al soos die “Oscars van die Stellenbosch Konservatorium” daar uitsien.
Die feesdirekteur, Peter Martens, vertel hoe wyle emeritus aartsbiskop Desmond Tutu saam met die SIKMF opgetree het toe die fees 10 jaar oud geword het. “Ons het alles uitgehaal om selfs ‘n pers tapyt te laat maak wat by ‘die Arch’, soos hy bekendgestaan het, se pers klere sal pas. Sedertdien word die pers tapyt jaarliks op die fees op die ingangstrappe van die Konservatoriumgebou uitgerol. Om deel te wees van hierdie uitgelate openingsfunksie bied die SIKMF konsertgangers ‘n goeie rede om deftig aan te trek en hulle word aangemoedig om ook iets pers te dra.”
Vanjaar se openingsfeestelikhede sal môre (Vrydag 4 Julie) ook in die Endler-saal plaasvind. Twee modeontwerpers en dansers sal feestelikhede inlui met Daniel Rowland se opwindende uitvoering van Vivaldi se “Vier Seisoene”, volgens die Max Richter-weergawe van die konsert. Dit word gevolg deur ‘n uitvoering van Ravel se “Bolero”, met die vroue in ERRE-modeskeppings geklee, terwyl die mans se konsertdrag met materiaal-knipsels onder Roman Handt se leiding verhelder sal word.
Dansitems deur die Figure of 8 Dance Theatre sal die musiekoptredes vergesel.
Gehore kan uitsien na die mees vernuwende tien dae lange konsertprogram tot nou.
Die dagprogram sluit kamermusiek-afrigtingsessies, openbare meestersklasse en studentekonserte in. Die hoogtepunt van elke dag sal die aandkonserte om 20:00 in die Endler-saal wees.
Altesaam 300 studentedeelnemers sal op die laaste drie dae van die fees in twee simfonie-orkeste in konserte speel.
Die fees vind van Vrydag 4 tot Sondag 13 Julie plaas.
• Besoek Webtickets vir besprekings en www.sicmf.co.za vir nog inligting.