Die tweede jaarlikse Simposium van Suid-Afrikaanse Komponiste (SoSAC) sal van Maandag 9 tot Vrydag 13 September by die US Konservatorium in Stellenbosch plaasvind.
Hierdie unieke gebeurtenis bring komponiste, musiekskeppers, klankkunstenaars, en opvoeders bymekaar om kontemporêre Suid-Afrikaanse musiek oor ’n wye verskeidenheid genres te deel en te vier. Dit is tans die enigste gebeurtenis van sy soort in Suid-Afrika.
Die SoSAC is ’n projek van SAComposers, ’n organisasie wat in Suid-Afrika werk om uitvoerende kunstenaars met musiekskeppers te verbind. Die week se verrigtinge sluit 14 sessies en gebeurtenisse in, daaglikse werkswinkels, meestersklasse, interaktiewe sessies, en aandkonserte met gasskunstenaars. Internasionaal bekroonde deelnemers sluit in orrelis Roshan Chakane en saksofonis Naomi Sullivan.
Die simposium staan uit vir sy inklusiewe benadering, wat samewerking oor Suid-Afrika se ryk musikale erfenis bevorder. Oggendsessies sal op individuele lesse en meestersklasse met bekende Suid-Afrikaanse komponiste fokus, insluitend gas-komponis Clare Loveday. Middagsessies bied interaktiewe werksessies oor Afrika-musiek met Ncebakazi Mnukwana, jazz-verwerking en -komposisie met Ramon Alexander, kontemporêre pyporrelpraktyk met Roshan Chakane, en koormusiek met Aurum Cantores.
Aandkonserte sal optredes deur die US Simfoniese Blaasensemble, Mizar Trio, ’n feesorkes ondersteun deur Mzansi Filharmonie, gasskunstenaars, en internasionaal bekroonde komponis Lize Briel vertoon. Die simposium sal deur multi-instrumentalis-komponis en vervaardiger Anthonie Jansen van Rensburg, by die Oude Leeskamer met ondersteuning van die Jannie Mouton-stigting, geopen word.
“Suid-Afrika is ’n plek van ongelooflike diversiteit en kulturele innovasie, en al hoe meer ontdek kunstenaars nuwe en unieke plaaslike praktyke deur samewerking en dialoog,” verduidelik, dr. Antoni Schonken, die sameroeper van die simposium.
“Ons doel met die simposium is om hierdie dialoog te bevorder en verder te versterk, en die volle diversiteit van nuwe Suid-Afrikaanse musiek op ’n genotvolle en toeganklike manier aan gehore te bring.”
Arthur Feder, hoof van SAComposers, voeg by: “Die hoofdoel van SAComposers is om verhoudings te bevorder en verbindings tussen komponiste en uitvoerders te bou . . . om ruimtes te skep waar leer van en oor mekaar oop en verwelkomend is. Ons simposium is ons vlagskipprojek, en ek dink dit spreek ons doelstelling perfek aan, groei en ontwikkel jaar na jaar.”
Prof. Nina Schumann, stigter en artistieke direkteur van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SICMF), het haar opgewondenheid uitgespreek: “Dit is wonderlik om te sien dat vir die tweede jaar agtereenvolgens, SoSAC weer by die departement musiek by die Universiteit Stellenbosch gehou sal word. Die departement het reeds sy merk op die nasionale landskap gemaak met projekte soos die klaviersimposium en die vlagskip SICMF. Wat veral opwindend is, is dat SoSAC ’n gewaagde tradisie van innoverende denke gekoppel aan kreatiewe uitdrukking voortsit.”
Kaartjies vir individuele konserte is teen R165 (algemene toegang), R125 (pensioentrekkers), en R60 (studente) beskikbaar. Feespasse, wat toegang tot alle gebeurtenisse en sessies bied, kos R990 en R490 vir studente. Bespreek jou plek aanlyn by www.webtickets.co.za.