Musiekaand by Drostdy

Die gewilde kunstenaar Jannie du Toit en ’n groep van sy musikale vriende reis in September na Stellenbosch vir ’n spesiale geldinsamelingskonsert ten bate van die nasionale raad van en vir mense met gestremdhede (NCPD).


Die gewilde kunstenaar Jannie du Toit en ’n groep van sy musikale vriende reis in September na Stellenbosch vir ’n spesiale geldinsamelingskonsert ten bate van die nasionale raad van en vir mense met gestremdhede (NCPD).

Die musikante bring Donderdag 12 September om 20:15 nostalgiese musiek na die Drostdy-teater. Benewens treffers uit Du Toit se eie repertoire, sal kunstenaars by hom aansluit om die gehoor te vermaak met sang, harmonie en klavier-, fluit- en kitaarspel. Sy bekende musikale vriende sluit in Laurinda Hofmeyr, Philomène en Fearika Heyns, Riël, Lars, Karin en Tanja Franzsen, asook Dirk Aldrich, Annelie du Plessis-Hoberg en Gerhard Niemand.

Therina Wentzel-du Toit, die nasionale direkteur van NCPD, het haar waardering vir hierdie inisiatief uitgespreek. “Kom geniet ’n aand van goeie musiek en ondersteun ’n verdienstelike saak met uitstekende kunstenaars wat hul tyd en talent kom deel om geld in te samel vir die uitvoering van ons organisasie se werk,” sê sy.

“Die NCPD is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat die belange van mense met gestremdheid bevorder, onder meer deur bewusmaking, invloedwerwing en dienste wat dit moontlik te maak vir dié mense om by die breër samelewing in te skakel.

“Die raad vier vanjaar sy 85ste bestaansjaar, terwyl Loslitdag vanjaar reeds vir 30 jaar een van ons belangrikste geldinsamelingsprojekte is.”

  • Kaartjies kos R220 of R190 vir pensioentrekkers en onder 21’s en is aanlyn deur Webtickets beskikbaar.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.