Die Hoërskool Stellenbosch het Dinsdagaand (22 Maart) sy splinternuwe musieklokale bekend gestel.
Die geleentheid is gepaar met goeie musiek en asemrowende klanke van die skoolkoor en die skool se kamerkoor, Brandslang, wat die gaste in die nuwe lokale met hul ongelooflike akoestiek betower het.
Die skoolhoof, Theo Pellissier, kon nie die verrigtinge bywoon nie weens ander verpligtinge in die buiteland, maar het in sy toespraak, wat in sy afwesigheid voorgelees is, gesê hy is baie trots op wat die skool vermag het.
“Vanaand staan u in ’n sentrum wat ná ’n baie vinnige besluit een oggend in die kantoor gemaak is nadat die Dagbreek Trust vir ons genoem het dat ons die volle lening van hul geld kan gebruik, rentevry, want dit is die laaste van geld leen vir sulke projekte,” lui sy toespraak.
“In 2000 was ek baie bevoorreg om een van die vyf beste musiekskole in Brittanje te besoek naamlik Wells Cathedral School. Die skool het ’n ongelooflike indruk op my as onderwyser gemaak. My hele denke oor wat ’n totale opvoeding is en wat blootstelling aan enige kind se drome doen, het hier ’n ander inslag gekry. Die atmosfeer wat dit skep as jy ’n skoolterrein binnestap was onbeskryflik.
“Nou, 22 jaar later, staan u vanaand in ’n baie kleiner weergawe. Die doel is dieselfde. Om jong leerders bloot te stel en op te voed in die wonderlike wêreld van musiek!
“Ons sit hier in Stellenbosch, ’n universiteit van wêreldgehalte by ons voordeur. Al die geleenthede is hier by ons,” voeg hy by.
Pellissier het sy groot dank aan die musiekdepartement uitgespreek, “wat met sy positiewe energie en inisiatief en ongelooflike talent en passie vir sy vak, elke leerder in hierdie skool aan musiek blootstel.
“Die departement onder leiding van Hanneke en haar span, Lyuda, Cara en Xander met die kore bring ’n ander aanslag na HS Stellenbosch wat ons nooit gering moet ag nie. Die span groei jaarliks en verskeie spesialiste raak betrokke. Mag musiek in HSS nog duisende lewens in ons tyd inspireer.”
Hy sê verder hierdie projek sou nie moontlik gewees het sonder die argitek Sam Pellissier se visie en kreatiewe denke nie. Die passievolle ondersteuning van Pieter Venter en Niel Retief van die FBK se kant het hierdie projek ’n plesier gemaak om aan te pak!