Om gereed te maak vir jou 100ste verjaarsdag is ‘n besonderse seën en selfs nog meer indien jy jou 70ste huweliksherdenking dieselfde maand vier!
Dit is die gawe waarna Chris (C.P.) van der Merwe uitsien. Oom Chris vier op 30 Desember sy 100ste verjaarsdag en ná ‘n eeu op aarde is hy steeds so gesond dat hy geen medikasie gebruik nie. Hy is nog op die been maar gebruik ‘n loopraam.
Oom Chris en sy vrou, Marietjie (94), vier boonop Sondag 14 Desember hul 70ste huweliksherdenking.
Hoewel Oom Chris deesdae in die sorgeenheid van die Azaleahof-tehuis is, en sy vrou in ‘n woonstel, bring hulle nog elke dag saam deur.
Oom Chris het in 1969 van Pretoria na Stellenbosch verhuis en was die bestuurder van die United Bouvereniging (later Absa) tot sy aftrede in 1987.
Ná sy aftrede het hy in alle erns met sy groot liefde begin – houtwerk. Uit sy hande het talle pragtige meubelstukke vir familie en vriende gekom.
Sy hoflikheid, nederigheid en diens as steunpilaar van die gemeenskap het hom onder ‘n ieder en ‘n elk geliefd gemaak. Tot vandag nog is dít die eienskappe wat Azaleahof se versorgers opval.
Hy was altyd fiks en aktief en het tot in sy sewentigs nog met ‘n fiets na die Coetzenburg-swembad gery om te gaan swem.
Oom Chris en tannie Marietjie se kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders vier met vreugde en dankbaarheid hierdie besonderse ouerpaar se lewe.





