Miguel Smythe, ’n vleuel van Van der Stel-Evergreens, op die aanval.


Van der Stel-Evergreens (VDE) en Franschhoek is die twee spanne wat die Wynland-distrik in die Top-ses-kompetisie gaan verteenwoordig wanneer al die ligaverpligtinge in Superliga B afgehandel is.

Die triestige weer van die afgelope maand het ’n stokkie voor die afhandeling van ligaverpligtinge gesteek, en spanne moes onderling reël dat wedstryde op ander tye gespeel word.

Albei plaaslike spanne het Saterdag in gure weer met hul onderskeie teenstanders afgereken. VDE het All Saints met 45-7 en Franschhoek het Bellville met 36-17 geklop.

VDE beklee tans die derde plek op die punteleer met 48 punte – een minder as Hands & Heart – terwyl Franschhoek die sesde plek met 44 punte beklee.

Die twee spanne in posisie een en twee kwalifiseer outomaties vir die halfeindstryd, terwyl spanne drie tot ses in kwarteindstryde gewikkel sal wees om te bepaal wie met die twee voorlopers kragte gaan meet. Alles dui daarop dat UWK en Kraaifontein as die twee voorste spanne sal kwalifiseer, want UWK het ook nog drie wedstryde minder gespeel, terwyl Kraaifontein ná 13 wedstryde reeds 56 punte het.

Spanne moet Woensdae en Saterdae speel om al hul ligaverpligtinge af te handel en alle oë is op die kragmeting tussen VDE en Kraaifontein op Woensdag 21 Augustus gerig om te sien of VDE Kraaifontein se opmars kan stuit. Die wedstryd sou aanvanklik gisteraand (14 Augustus) beslis word, maar weens die onspeelbare oppervlak by Kraaifontein se tuisveld is dit uitgestel.

Kylemore beklee die laaste posisie op die punteleer en sal seker aan die uitspeelwedstryde moet deelneem om te bepaal of hulle in Superliga B bly, en of hulle afskuif na Superliga C. Die uitspeelwedstryde sal eers later bepaal word. Kylemore het die naweek met 38-12 die onderspit teen Kraaifontein gedelf.

In Superliga C het Goodwood die Pniël Villagers met 30-15 gewen. In die Promosieliga het Blue Stars van Klapmuts met 3-3 gelykop met Silvertree gespeel. Blue Stars speel Saterdag teen Watsonia.

You need to be Logged In to leave a comment.