‘ ’n Begroting vir almal in Stellenbosch’

Inwoners van Stellenbosch het nou kans om hul insae te lewer vir die 2025-’26 konsepbegroting.

Credit: Unsplash/Spekboom

‘n Begroting vir elke Stellenbossser – van Langrug tot Lanquedoc, Kylemore tot Khayamandi, Jamestown tot Johannesdal, Mostertsdrift tot Idasvallei, Cloetesville tot Klapmuts, Franschhoek tot Raithby en Dalsig tot Devonvallei.

Só het die uitvoerende burgemeester, Jeremy Fasser, oor sy eerste konsepbegroting gesê, wat Dinsdag (31 Maart) aan die Stellenbosch- munisipale raad voorgelê is. Die totale begroting vir die volgende boekjaar is R3,37 miljard.

Die grootste deel van die begroting – 81% – is vir die bedryfsbegroting, terwyl 19%, oftewel R654 miljoen, vir die kapitaalbegroting aangewend sal word.

Hoewel opposisiepartye grootliks die begroting verwelkom het, het die ANC gemaan dat die begroting nie slegs teoreties moet bly nie, maar inwoners se lewe daadwerklik moet verbeter.

Elektrisiteit

In ‘n poging om minder afhanklik van Eskom te word en ‘n groener aanslag te hê, sal R445 miljoen oor die volgende drie jaar in hernubare elektrisiteitsprojekte belê word. Bien Don kry ‘n nuwe substasie (R93,7 miljoen) en opgraderingswerk aan infrastruktuur vind in Cloetesville, Stellenbosch en Khayamandi plaas. Net meer as R31 miljoen is opsygesit om elektrisiteitskabels te vervang, wat Fasser as ‘n voortslepende probleem uitgewys het.

Water

Diensverskaffing wat aan water verwant is, sal die munisipaliteit oor die volgende drie jaar R322 miljoen uit die sak jaag. Goeie nuus vir Stellenbosch, Idasvallei en Cloetesville is dat hulle nuwe waterinfrastruktuur kry. Vlottenburg kry sy eie reservoir en opgraderingswerk sal by die afvalwaterbehandelingswerke in Klapmuts en Wemmershoek gedoen word.

Verkeer

‘n Stewige R262 miljoen is begroot om paaie en verkeersprobleme in die munisipale gebied aan te pak. Hoofprojekte sluit in die tussenpad van Adam Tas na Technopark.

Eikestadnuus het in Augustus 2024 berig oor die opgradering van die ingangsroete na Lanquedoc tussen Franschhoek en Paarl. ‘n Groter brug met twee bane is beplan en R18 miljoen is in die volgende begroting vir hierdie projek geoormerk.

Werk aan die kruisings by Strand-, Adam Tas-, en Alexanderstraat sal hopelik verligting vir motoriste bring danksy die R25 miljoen wat hiervoor begroot is.

Behuising

Behuising, oftewel die gebrek aan bekostigbare blyplek vir Stellenbossers, is ‘n kwelpunt. Fasser sê met die R173 miljoen wat opsygesit is, poog die munisipaliteit om hierdie kwessie aan te pak.

R48 miljoen is vir die noordelike uitbreiding van die Adam Tas-korridor en R42 miljoen vir die Jamestown-behuisingsprojek begroot. Fasser sê die munisipaliteit is toegewy om behuisingsgeleenthede aan die armste van die armes te bied. Dit sluit in R16 miljoen vir FLISP-ontwikkeling in Cloetesville. FLISP – Financed Linked Subsidy Programme – is subsidies vir individue wat die eerste keer ‘n huis koop.

“Party inwoners verdien te veel geld om vir maatskaplike behuising te kwalifiseer, maar ook nie genoeg vir ‘n huislening nie. Ons besef die vraag na bekostigbare behuising in Stellenbosch is groot en ons poog om die gaping vir huiskopers aan te pak,” se Fasser.

Die uitbreiding van kringtelevisie-kameras, ‘n brandweerstasie vir Jamestown en gespesialiseerde voertuie vir die verkeersdepartement is ook in die vooruitsig.

Die raadslid Grechard Petersen (GOOD) het gesê as inwoner van die Dwarsriviervallei hoop hy van die kameras word ook hier aangebring om met misdaadbekamping te help.

Tariewe

Fasser sê wat die nuwe munisipale tariewe betref, is die ekonomiese druk wat Stellenbossers daagliks ervaar, in ag geneem. Hy sê eiendomsbelasting sal met 18,36% daal terwyl water en sanitasie albei met 6% en vullisverwydering met 6,90% styg. “Ten spyte van Eskom se 11,32%-verhoging in die elektrisiteitstarief sal die munisipaliteit van die kostes opslurp en inwoners se tarief vir die volgende boekjaar sal met slegs 9,95% styg,” het Fasser gesê.

John Andrews van die Patriotic Alliance het ‘n beroep op inwoners gedoen om hul insette vir die begroting te lewer en sodoende te verseker dat in kritieke infrastruktuur belê word.

Die raadslid Wilfred Pietersen van die PDM het gemaan hoewel hy die begro- ting verwelkom, neem die munisipaliteit “soms te lank” om behuisingsprojekte van stapel te stuur. Hy voeg by meer wetstoepassingsbeamptes is nodig en nie noodwendig meer kameras nie.

Inwoners het kans tydens hul geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergaderings (GOP) op die konsepbegroting en die GOP te antwoord.

You need to be Logged In to leave a comment.