Die Steggies-kleuterskool in Devonvallei herdenk vanjaar ’n dekade van suksesvolle moedertaalonderrig en vroeëkinderontwikkeling in ’n eiesoortige plaasomgewing waar kinders leer deur na hartelus te speel.
Die skool het sy ontstaan te danke aan ’n begeerte om kinders in ’n gemaklike, maar goeie Moedertaalskool sonder enige fiemies op ’n plaas te kon hê – iewers buite Stellenbosch se gewoel waar kinders in ’n veilige omgewing kan kind wees en soveel vryheid as moontlik, dog binne grense, kan ervaar.
“Ons het ons deure in 2014 geopen met die visie om ’n skooltjie te vestig in ’n liefdevolle omgewing met pragtige natuurskoon, individuele aandag en ’n familie-oriëntasie. Saam met elke ouer wil ons by dié plaasskool ’n groeimedium en klimaat help skep waarin kinders kan wortel skiet en tot hul volle potensiaal as gebalanseerde en vrydenkende individue ontwikkel,” sê die skoolhoof, Tarien Ferreira.
Die plaashuis op Nonke is 10 jaar gelede in ’n skool omgeskep en die naam is geïnspireer deur die maak van plantsteggies wat tipies behels dat ’n klein gedeelte van ’n ouer-plant verwyder word. Deur die steggie van die regte sorg, klimaat, groeimedium en ander hulpmiddels te voorsien, word die steggie aangemoedig om sy eie wortelstelsel te vestig en as ’n onafhanklike plant te groei. “So is dit ook met ons kinders se menswording,” voeg Ferreira by.
Steggies-kleuterskool is by die departement maatskaplike ontwikkeling geregistreer en is aan die Vereniging vir Voorskoolse Opvoeding en Sorg (VVOS) en Stellenbosch ECD Forum geaffilieer. Die skool is ook deel van die Skole- ondersteuningsnetwerk wat deurlopend opleidingsgeleenthede fasiliteer.
Steggies glo in die ontwikkeling van en investering in personeel met deurlopende indiensopleiding en kursusse hoog op die lys.
Slegs 80 kinders kan Steggies op enige gegewe dag bywoon. Steggies het ses gekwalifiseerde onderwyseresse asook assistente wat aan alle voorvereistes vir skoolregistrasie, soos gestel deur die departement, voldoen. Die doelwit is om ’n leerder-onderwyser-verhouding van 1:10 vir die ouer klasse, 1:7 vir die twee- tot drie- jariges, 1:5 vir die een- tot twee- jariges en 1:3 vir babas te handhaaf.
Holisties beskou, hang ’n kind se ontwikkeling van ’n paar elemente af, naamlik gesondheid, voeding, sosiale beskerming, vroeë leer en ondersteuning vir primêre versorgers.
Steggies voorsien voedsame middagetes en ’n laatmiddaghappie vir kinders wat ’n volle dag skoolgaan. Eenvoudige en gesonde resepte word seisoenaal aangepas met vrugte, en koue water is deurlopend beskikbaar.
Steggies het sedert 2020 ook ’n toegewyde babakampus eenkant – weg van die skool se gedruis – waar babas en peuters van vier tot 18 maande welkom is. Die kampus beskik oor twee klaskamers met nie meer as ses kinders per klas nie.
Die kleuterskool is weeksdae van 07:15 tot 17:30 oop, asook tydens vakansies, behalwe ’n week in die Junie-vakansie en in die feestyd. Steggies bied ook nasorg vir kinders tot en met gr. 3, waartydens kinders vrylik speel, eet, ontwikkelings-aktiwiteite doen en, indien nodig, huiswerkhulp kry.
Die kinders moet net self vervoer word.
Studies toon dat kinders wat vroeëkinderontwikkeling- opvoeding kry, dikwels ’n voorsprong het en beter vaar op skool omdat hulle die geleentheid kry om die basiese vaardighede wat nodig is om suksesvol te leer, reeds vroeg vaslê.
“By Steggies-kleuterskool streef ons deurlopend daarna om die kinders te stimuleer en ’n omgewing te skep waarin elkeen sy of haar volle potensiaal kan bereik deur hul kognitiewe vermoëns asook hul emosionele en sosiale ontwikkeling aan te spreek.”
- Die skooltjie se deure het reeds Dinsdag vir 2024 geopen. Besoek gerus www.steggieskleuters.co.za, die kleuterkool se sosialemedia- kanale of stuur e-pos aan suzaan@steggieskleuters.co.za.