Hoërskool Kylemore is verlede Vrydagaand (4 November) as die wenners van die Musiekvideo-afdeling by die Paul Roos Gimnasium Filmit Fees aangewys.
Die prys is R2 000 kontant en ’n opleidingsessie met die musikant Frazer Barry.
“Dit is die eerste keer dat ons skool aan die kompetisie deelneem. Ons is baie trots op die prestasie, veral omdat ons dit in so ’n kort tydjie vermag het,” sê die koördineerder, Vrenica Booysen.
Booysen het vanjaar by die skool begin werk en het die dramagroep in Februarie begin.
“Mnr. Prins het my kom help en Chad, ’n leerder in my klas, het my vertel van hierdie kompetisie.
“Ek het vir Paul Roos Gimnasium gekontak. Ons wou inskryf vir kortfilms, maar ons hulpbronne en tyd was te min en ons het toe besluit op ’n musiekvideo.”
Sy sê hulle het geweet hierdie leerders het talent, maar die tekort aan hulpbronne het hulle bang gemaak, want hulle het geen toerusting gehad nie.
“Hierdie prestasie was regtig een van hoop. Ons as ’n dramagroep het nuwe hoop daardie aand gekry, veral vir ’n skool met baie min geld en ander sosiale uitdagings.
“Ons het een van die leerders se iPhone gebruik en drie periodes op ’n Vrydag gebruik om die video te skiet, want die video moes daardie Maandag teen middernag in wees. Mnr. Prins het die video geredigeer en musiek bygevoeg.”
Die idee, sê Booysen, het van die dramaleerders af gekom.
“Hulle is goeie storieskrywers en die oorspronklike idee was anders as die een wat ons uiteindelik gedoen het. Dit sou net in ’n klas plaasgevind het met ’n dansklub en die rolspelers wat sing, maar toe het ons dit verander, want tyd was teen ons. Maar dit het alles uitgewerk en ons kon ’n beter video skep.”
Booysen sê hulle wou soveel as moontlik gebruikmaak van hul dorp en dit uitbeeld.
“Alles het natuurlik ingepas met ons storielyn en dit het dit maklik gemaak om die storie te vertel. Ons wou ’n storie van liefde uitbeeld in die vorm van ’n musiekvideo. Ons wou ons dramavaardighede gebruik en die mooi en skoonheid van Kylemore wys.”
Booysen voeg by dat hulle jong liefde wou uitbeeld en wys dat jong liefde nog bestaan en dat dit soms onskuldig ook kan wees.
Die boodskap wat oorgedra word, is dat jou eerste liefde altyd die liefde sal wees wat jou inspireer om beter of slegter keuses te maak. “Ons wou wys hoe die verlede by mens kan spook, veral as jy verkeerde keuses maak.”