Die 101 jarige huis in Kylemore wat aan die Jacobs-familie gehoort.
Die 101 jarige huis in Kylemore wat aan die Jacobs-familie gehoort.

In Skoolstraat, Kylemore, staan ‘n huis reeds vir 100 jaar en die familie wat sedert 1925 daarin woon, hoop die woning bly nog lank staande.

Die Jacobs-familiewoning pronk steeds met sy sinkdak, houtvloere en oorspronklike stoep sedert John Jacobs dit gekoop het. Hoewel Brian Jacobs, ‘n Kylemore-boorling, jare terug reeds uit die huis getrek het, woon hy vandag net oorkant die pad en onthou sy grootwoordjare in dié tweeslaapkamerhuis nog goed.

“Voordat my pa hom hier in Kylemore gevestig het, het hy in Kyk-in-die-Pot gewoon. Toe hy in 1925 in Kylemore aankom, was die huis reeds staande. Hy het die grond en die huis wat daarop staan met ‘n lening vir 800 pond gekoop,” vertel Brian, wat byna 40 jaar by die Stellenbosch-instituut gewerk het.

Brian kan nie sê wanneer sy pa se eerste vrou, Spasie Morris, oorlede is nie, maar saam het dié ouerpaartjie vyf kinders gehad. Saam met Johna, Minnie, Willie, Edward en Henry, het die gesin van ses later 10 geword toe John met Brian se ma, Christine, getroud is. Saam het hulle drie van hul eie kinders gehad – June, Errol en Brian, die jongste vir wie die familiehuis net so belangrik is soos dit destyds was.

John Jacobs van Kylemore.
John Jacobs van Kylemore.

“Ons het lekker so ‘n klomp opmekaar gebly,” onthou Brian. “Ons kinderjare in die huis was altyd pret. Ons het goed oor die weg gekom en as jy ouer broers het, is jy altyd gelukkig wanneer hulle vir jou iets koop. Dit was altyd lekker om tuis te wees.”

Die 101 jaar oue woning het slegs ‘n kombuis, voorkamer en twee slaapkamers gehad, maar daar was altyd mense op die res van die erf ook.

Brian meen een van sy pa se bekendste karaktereienskappe was sy omgee-hart.

“Hy was lief om uit te reik en te help. Toe ek my verstand kry, was hy lief om mense met huisvesting te help. ‘Nee’ was nie ‘n antwoord nie, want hy het altyd ‘n plan gemaak. Sy hulp met blyplek het van dae na weke geword, en van weke na maande, wat weer jare geword het. Daar het later 10 gesinne op sy grond gewoon.”

In 1990 het ‘n nuwe behuisings-ontwikkeling in Kylemore tot stand gekom en John het gereël dat al die gesinne wat op sy grond gewoon het deur middel van dié skema gehelp word alvorens hy ingestem het om sy grond vir die ontwikkeling in die mark te sit. Hoewel John die transaksie met die destydse streeksraad begin het, het hy nooit die uiteinde van sy hulp gesien nie. Hy is oorlede voor die ontwikkeling voltooi is.

Brian en sy ma het voortgegaan en uiteindelik die meeste van die erwe verkoop. Deesdae besit die familie enkele erwe op die grond wat John gekoop het.

Brian Jacobs op die stoep van die familiehuis waar hy en sy sewe sibbe groot geword het in Kylemore. Die woning is vandag, na meer as ‘n 100 jaar, steeds in familie besit. Foto: Yaël Malgas

Een van die erwe is waar die Jacobs-familiewoning steeds pronk. Christine het tot haar afsterwe ‘n paar jaar gelede in dié huis gewoon. Vandag pas een van die agterkleinkinders, Keeton, die huis op.

Brian sê oor die dekades is geen groot veranderings aan die huis aangebring nie, hoewel een buitemuur vervang moes word nadat dit ingeval het.

“Die huis is definitief gebou om te hou,” sê Brian skertsend.

Benewens sy herinnering van die huis onthou Brian sy pa se groen vingers. “Daardie jare het ons uit die grond geleef. My pa was baie lief vir tuinmaak en het op klein skaal met varke, beeste en hoenders geboer. Ons het groente en aarbeie geplant. Sy aarbeie was so gesog dat hy dit destyds aan Rhodes Fruit Farms verkoop het,” onthou Brian.

Hy sê dit is ‘n eer en voorreg om die familiehuis steeds in familie-besit te hê. “Een honderd jaar nadat my pa dit gekoop het, staan dit steeds en dit moet gekoester word. Hierdie dorp is besonders en een van die lekkerste plekke om te woon,” meen hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article