Feeskoors loop hoog in die Dwarsriviervallei met die jaarlikse Adam Small-boekefees wat die komende naweek in Pniël gehou word.
Die sewende weergawe van die boek- en literêre-fees, wat na die alombekende ontslape digter, dramaturg, akademikus, filosoof, rubriekskrywer, maatskaplike werker, aktivis en een van die stigters van die Universiteit van die Wes-Kaapland vernoem is, word van Donderdag 22 tot Sondag 25 Februarie aangebied.
Die vierdag-geleentheid word deur die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) in samewerking met die ATKV aangebied, met praatjies, werksessies, musiek, lesings en gesprekke wat hoofsaaklik in die tuin van die Pniël-museum en die Pniël Congregational-kerk gehou word.
Volgens die hooforganiseerder en PEKT-voorsitter, Janine Myburgh, skakel die fees in by die visie van die trust, om die dorp en sy mense se kultuur-historiese geskiedenis te beskerm. “Die doel was aanvanklik slegs om hulde te bring aan prof. Adam Small. Breyten Breytenbach het gesê dat hy lank reeds die Hertzog-prys moes kry, maar erkenning is eers in 2012 aan Small gegee, toe hy hierdie gesogte prys ontvang het,” verduidelik sy.
“Die Adam Small-fees in Pniël het hulle dus voorgespring deur erkenning te gee aan een van ons eie, wat braaf genoeg was om in Afri-Kaaps te skryf en politieke gevegte aan te gaan vir sy mense.”
En met die feestema Kô hys toe, ’n verwerking van Small se gewilde boek, Kanna hy kô hystoe, hoop die organiseerders om veral die inwoners van dorpe in die Dwarsriviervallei na die geleentheid te lok. “Dit is hartseer dat die inwoners van Pniël en die vallei ná sewe jaar nog nie besef watter waardevolle literêre en kulturele pakket gratis hier op hul voorstoep aangebied word nie,” sê Myburgh.
“Die fees is ’n onbeskryflike waardevolle geleentheid, eie aan Pniël. Vir soortgelyke feeste in ons buurdorpe moet feesgangers ’n jaar of twee voor die tyd begroot. Ons werk daaraan om mense na die fees te lok deur nuwe projekte soos die volwasse- en skole-skryfprojekte te skep, asook verskeie ander aanbiedings en werksessies by die fees voor te stel.”
Tog het die organiseerders sedert die ontstaan van die fees in 2017 positiewe terugvoering van plaaslike inwoners ontvang. Een boodskap lui: “As kind van die vallei is dit een van die hoogtepunte op my persoonlike kalender. Wat ’n verrykende ervaring. Ek geniet die skrywers vreeslik en word geïnspireer om meer te lees.”
Die Adam Small-boekefees bied ’n platform vir Afri-Kaapse skrywers wat, soos Small, nooit erkenning gekry het vir hul literêre werke nie.
“Maar Darryl David, die fees se stigter, programleier en sameroeper van die skrywers, glo dit sal altyd ’n veelrassige fees wees, en almal is welkom om die fees by te woon,” sê Myburgh. “Ons poog om nooit ’n toegangsfooi na die voorlesings te vra nie, en danksy ons vennootskap met die ATKV, kan ons nou fokus om die Adam Small-fees en die programme vir Afrikaans, wat die ATKV aanbied, na die gewone mens bring.
“Ons het ook ander borge wat ons jaarliks ondersteun en bydra tot die sukses van die fees jaar na jaar – ons het groot dankbaarheid aan hulle wat ’n liefde vir Afrikaans en die literatuur het.”
Van die fees se hoogtepunte deur die jare sluit sprekers en kunstenaars soos dr. Rosalie Small (weduwee), Albie Sachs, Breytenbach, prof. Michael le Cordeur, Helen Zille, Diana Ferrus, Jacques Pauw, Pniël-boorling Adrian Lackay, Tracy Going, Chase Rhys, Julian Jansen, dr. Marlene le Roux, Lyntjie Jaars, Natalia da Rocha, Crystal-Donna Roberts, dr. Beryl Bothma en baie meer in.
Vanjaar is daar weer ’n verskeidenheid vermaak, lesings, werksessies, en aktiwiteite waarna feesgangers kan uitsien. Dit sluit in die VVA-leeskonferensie (22 Februarie); VVA-skoleprogram met Anzil Kulsen (23 Februarie); VVA Ommietafelgesprek met Ferrus, Kulsen, André Hendricks en gesprekleier Chareldine van die Merwe (23 Februarie); die fees se gedenklesing deur prof. Hein Willemse (24 Februarie); die ATKV-Suidoosterfees Koorwerksessies (24 Februarie); die Adam Small Klawerjas-vertoning (24 Februarie); en lesings deur dr. Harlan Cloete en Pieter du Toit, skrywer van The Stellenbosch Mafia en The ANC Billionaires.
- Besoek www.adamsmallfees.co.za, of kontak die Pniël-museum per e-pos by pnielmuseum@gmail.com vir meer inligting of om die volledige feesprogram te verkry.