Kingdom Development Projects (KDP) het Saterdag 9 Augustus sy jaarlikse Vrouedag-sportfees by die Kanonkop-sportveld aangebied.
Sowat 600 mense het byeengekom vir ‘n dag wat nie net oor sport gegaan het nie, maar oor gemeenskapsamehorigheid, die krag van vroue en die oorwinning van uitdagings.
Ten spyte van die koue wind en reën het die sokker- en netbalspelers, afrigters, ondersteuners en vrywilligers hul staan gestaan en hul sit gesit. Sportmangees het geseëvier en die gees van die deelnemende gemeenskappe was sterker as enige storm.
KDP, wat deur die Klapmuts-inwoner Leticia Pietersen begin is, het ‘n duidelike doel met dié sportdag – om landelike gemeenskappe te verbind, jong mense hoop te bied en die ongesiene bydraes van vroue in sport te vier.
“Die Vrouedag-sportfees het gewys dat sport die vermoë het om brûe te bou, harte te verbind en hoop te bring – selfs in die middel van ‘n storm. Dit was nie net ‘n sportdag nie; dit was ‘n viering van volharding, gemeenskap en die onbreekbare gees van vroue,” het sy verduidelik.
Die Vrouedag-sportfees is die ontmoetingspunt van twee distrikte – die Stellenbosch- landelike sportunie (onder leiding van Desmond Engelbrecht) en RODSA van die Rawsonville-sportunie (onder leiding van Ellias Kannemeyer).
“Hierdie vroue, wat soggens voor dagbreek opstaan om kos te maak, sporttoerusting gereed te kry en kinders veilig by hul bestemmings te kry, word dikwels nie genoeg erken nie. Hierdie dag was vir hulle – die stil heldinne van die gemeenskap,” het Pietersen gesê.
Tydens die fees het die o.15-, o.17-, o.18-en twee senior spanne dinge op die sokkerveld uitgespook, terwyl die o.16-, o.19- en senior spanne van Stellenbosch en Rawsonville mekaar die stryd op die netbalbane aangesê het.
Stellenbosch het in al die netbalwedstryde met die louere weggstap, terwyl Stellenbosch ook die o.17- en senior A-sokkerwedstryde beklink het. Rawsonville was in hul noppies met hul seges in die o.15-, o.18- en senior B-wedstryde.
“Een van die mees aangrypende oomblikke was toe Stellenbosch se senior netbalspan hul goue trofee aan Rawsonville oorhandig het – ‘n gebaar van sportmanskap en waardering wat trane in baie oë gebring het,” het Pietersen bygevoeg.
Benewens die aksie op die sportveld is inspirerende toesprake ook deur verskeie gasprekers gelewer. KDP bedank al die borge wat die dag moontlik gemaak het.


