’n Huisbrand laat nie net puin agter nie, maar kan ook ’n familie uitmekaar skeur.
Dit was die ervaring van ’n Cloetesville-gesin wat ook sy jongste familielid verloor het.
Mishka Archee (9) het Maandag 27 Mei gesterf toe sy en die res van haar gesin tuis was toe hul huis in Primrosestraat vlam gevat het.
Die brand het vermoedelik omstreeks 01:00 uitgebreek.
Oupa David Archee, sy vrou, Lea, en dogter, Marisa Wanza, kon uit die vlamme ontsnap, maar klein Mishka kon nie verby die diefwering in haar kamer kom nie, ten spyte van haar oom, Bradley Williams, en bure wat gepoog het om haar uit te kry. Die diefwering is uiteindelik opgebreek, maar dit was te laat vir die meisie.
Nou, ’n maand later, tel die gesin en familielede steeds die stukke op.
David woon nou in sy agterplaas saam met sy suster in haar wendyhuis. Lea het aanvanklik by bure oorkant die pad gewoon, maar sy reis tussen Stellenbosch en Atlantis, waar sy en die kinders by familie woon. Oupa David sê dit is hartseer dat daar nie heenkome vir sy hele familie is nie. Op haar beurt sê Marisa sy het nie eers kans gehad om oor haar kind te rou nie, want die familie poog om terug in hul huis te kom.
“Ons kan nie aangaan met ons lewens nie. Dit is nou al ’n maand ná die brand en ons swerf sonder heenkome. Ons is so te sê op die straat. Ons as gesin kan nie eers bymekaar kom nie, want die een is daardie kant en daardie een ’n ander kant,” sê Marisa.
As die broodwinner is daar nog meer druk op Marisa om seker te maak haar bejaarde ouers het ’n woning hierdie winter.
Vir tyd en wyl is Bradley by bure in die straat omdat hy gereeld na die plaaslike hospitaal gaan, maar Marisa sê die reëling kan net vir só lank staan.
“Mense wil natuurlik hul huis vir hulself hê,” sê sy.
Familie, vriende en kollegas sit saam met hul hande in hul hare en meen die Stellenbosch-munisipaliteit moet ingryp om die huis te help herstel.
Aselena Dirks, ’n gemeenskapslid wat poog om die gesin te help, sê hierdie geval is bewys dat noodbehuising nodig is vir enigeen wat sonder heenkome is.
’n Kollega van Mishka stem saam en meen indien die dak en venster herstel word voor die winter weer woed, kan die res van die huisgoed deur donasies en skenkings verkry word.
Verlede week moes nog ’n gesin toekyk hoe hul woning in vlamme verswelg is.
Colin en Melissa Rhodes het Donderdag (20 Julie) ’n oproep van hul bure ontvang dat hul huis en die wendyhuis in hul agterplaas, in Langstraat, brand. Die paartjie is toe inderhaas huis toe, maar kon net toekyk hoe brandbestryders poog om die vlamme te blus. Benewens die trauma om hul besittings te verloor, was Melissa se grootste bekommernis waar sy, haar man, hul twee seuns en haar neef almal sou slaapplek kry.
Dirks het met hierdie geval ook uitgewys dat noodbehuising ’n oplossing kan wees vir inwoners wat hulself sonder heenkome vind.
Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, sê die munisipaliteit probeer altyd hulp verleen aan gesinne waar moontlik.
Hy voeg egter by hierdie hulp word binne die interpretasie van die bestaande wetgewing gedoen.
“Daar is nie ’n beleid vir hulp aan gesinne in formele huise in formele woonbuurte wat byvoorbeeld deur ’n brand geraak is nie.
“Die munisipaliteit is egter tans hard besig met die hersiening van die noodbehuisingsbeleid sodat daar konkrete hulp (waar nodig) aangebied kan word aan persone wat haweloos gelaat word as gevolg van rampe, soos omskryf in die Wet op Rampbestuur (57 van 2002).”
Grobbelaar benadruk egter dat die hersiening van die noodbehuisingsbeleid nie ten doel het om elke ramp in formele behuisingsgebiede met alternatiewe akkommodasie op te los nie.