Laasweek het ons hier in die wonderskone dorpie Pniël afskeid geneem van Humphrey van Graan, oudste broer van die bekende Mentoor-familie.
Ek het hom persoonlik geken en hy was ’n fassinerende karakter met ’n beleefde wyse van kommunikasie. Hy het altyd kliphard gelag as ek vir hom ’n pienk kers vir die donkerte gebring het.
Ek glo dat die gawe Iere my sal vergun om hul bekoorlike seën te vertaal en hom dit toe te wens op sy nuwe pad wat hy gaan loop. Ek vertaal dit losweg in die mooiste taal, Afrikaans.
“Mag die pad opstaan om jou te ontmoet. Mag die wind altyd op jou rug wees. Mag die son warm oor jou gesig skyn; die reën sag val op jou landerye en tot ons mekaar weer ontmoet, mag God jou styf in die palm van Sy hand vashou.”
In my gedagtes sit jy met jou smart cowboy-hoed op die grasperk en kyk na jou geliefde Drakensteinberge. Dan lyk jy nes jou naamgenoot, Humphrey Bogart, in daai Wilde Weste-prent Oklahoma Kid wat in 1939 geskiet is.
Hamba kahle, ou Humphrey, mooi loop my vriend.
Sterkte aan sy liewe familie en uitgebreide vriendekring.