’n Jong man met ’n groot hart

Johan van der Merwe neem jaarliks aan die Señor Chef & Ina Paarman’s Kitchen se geldinsamelingsprojek deel en vanjaar het hy sy skool gehelp om ’n landwye rekord te haal.


Johan van der Merwe neem jaarliks aan die Señor Chef & Ina Paarman’s Kitchen se geldinsamelingsprojek deel en vanjaar het hy sy skool gehelp om ’n landwye rekord te haal.

Johan, ’n gr. 6-leerder aan Laerskool Stellenbosch, het R76 976 ingevorder.

“Met die Ina Paarman-projek het ek elke jaar my bes probeer en van deur tot deur gegaan om produkte te verkoop.

“Ons is aangemoedig en gemotiveer om ons heel beste te gee – daar is selfs ’n WhatsAppgroep gestig waar die hele klas mekaar aangemoedig het,” vertel Johan.

Johan het besluit om weer presies op dieselfde manier te begin.

“Toe vriende van Pretoria by ons kom kuier het, was hulle my eerste target, maar toe sê oom Piet dat hy nog omtrent die helfte van die produkte oor het wat hy verlede jaar gekoop het.

“Hy het aangebied om produkte te koop, maar gesê ek kan daarmee doen wat ek wil.”

Johan sê hy het dadelik geweet hy kan dié produkte aan die kleuterskool skenk waar hul huishulp se kleinkinders skoolgaan.

“Oom Piet het gedink dit is ’n wonderlike idee en sommer onmiddellik die bedrag verdubbel omdat dit vir so ’n goeie doel gaan.”

Volgens Johan het hy nou op ’n heel ander en groter manier na die projek begin gekyk – nes sy pa, Johan, hom altyd aangemoedig het om te doen.

“My idee was om besighede te nader en te vra vir skenkings sodat ek gesonde produkte kan koop en dit as Kersfeespakke aan minderbevoorregte kinders in skole kan skenk.

“Besighede wil graag iets goeds doen en ek het duim vasgehou dat my plan sal werk.”

Johan sê die reaksie was groter as wat hy ooit kon droom.

“Ek was regtig uit die veld geslaan oor mense se bereidwilligheid en ondersteuning en ek is oneindig dankbaar vir elke rand wat deur almal gegee is.

“Ek dink ons gaan baie kinders se harte hierdie Kersseisoen bly maak,” glo Johan.

“By Laerskool Stellenbosch is ons bevoorreg dat onderwysers en die skoolhoof altyd hul beste gee – so kan ek saam met my klasmaats probeer om nes hulle ook ons beste te gee,” sluit Johan af.

V Skole wat wil aansoek doen vir 2018 se geldinsamelingsprojekte kan ’n e-pos stuur aan 2 dewet@senorchef.co.za of 0 021 883 3826.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.