Christo du Plessis van Stellenbosch stel 1 Desember sy jongste liedjie bekend.


’n Talentvolle sanger, wat ’n paar jaar gelede na Stellenbosch verhuis het, stel eersdaags sy jongste enkelsnit bekend.

Christo du Plessis, ’n inwoner van Huis Horison, se liedjie “Amper daar” beloof om die smaak van jonk en oud te prikkel. Dit word Vrydag 1 Desember op aanlyn platforms vrygestel.

Dit is die vierde liedjie wat dié 24-jarige opneem. “ ‘Amper daar’ is ’n liefdesliedjie oor ’n jong man wat die langpad na sy meisie vat,” vertel Christo. “Die liedjie is vir my geskryf en dit was so cool om dit op te neem. ‘Amper daar’ is glad nie ’n ernstige lied nie. Ek wou ’n radio-lekkerluisterlied bekendstel, waarna mense sommer net by die huis of van die werk af in hul motors kan luister en lekker op kan sokkie.”

Die enkelsnit volg op drie liedjies – “Jy is die meisie”, “Raak weer verlief” en “Drome van liefde” – wat Christo self geskryf en vrygestel het. Hy het ook as 18-jarige sy eerste CD met verskeie cover songs vrygestel.

Die sanger is in Pretoria gebore en het in Brits grootgeword. Hy onthou sy grootwordjare as “groot pret” met besoeke aan verskeie vakansieoorde in en om sy tuisdorp. “Ons het elke skoolvakansie see toe gegaan – in KwaZulu-Natal – of ’n draai in die Krugerwildtuin gemaak,” vertel Christo.

“Ons gesin hou van die Bosveld en natuurlik ook kuier en braai. Ek, my ouer suster en my pa geniet ook visvang; my ma is natuurlik dan nêrens te sien nie. Ons het later jare na Pretoria verhuis en ek het Stellenbosch in 2021 my nuwe tuiste gemaak.”

Christo het van vroeg af ’n liefde vir musiek gekoester en het in kleuterskool reeds begin sing. Deur sy skoolloopbaan het hy sang beoefen en ander met sy talente vermaak en betower totdat hy besluit het om musiek sy lewe te maak. “Musiek maak my rustig en gelukkig,” sê hy.

“Daar is altyd ’n positiewe storie in musiek. As sanger wil ek graag hê mense moet hul sorge vir ’n tydjie, terwyl ek vir hulle sing, vergeet.”

Christo bespeel geen instrumente nie en maak gebruik van agtergrond­musiek vir sy liedjies. Hy droom om in die nabye toekoms ’n musiekvideo vir “Amper daar” op te neem.

“Daarna wil ek sommer nog ’n klomp nuwe liedjies skryf en opneem; dis vir my opwindend om in die ateljee agter die mikrofoon te staan en my in die musiek in te inleef.

“En as ek nie met musiek besig is nie, is ek maar doenig op die strand of in die buitelewe. Ek geniet dit om met my musiek in my ore te stap. Hier in die Kaap is strand toe gaan in elk geval ’n voltydse ding.”

“Amper daar” sal 1 Desember op Spotify, Apple, YouTube en deezer beskikbaar wees om na te luister of om te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.