Die ATKV Crescendo-legende Jak de Priester deel Vrydag 16 Augustus die verhoog met die 2009-wenner Babette Viljoen asook vanjaar se finaliste Duran Titus (Duka), Lester Paulus (Crimson Hozay) en Lize-Marié Naudé.


Vir die derde Platformsessies-konsert van ATKV-Crescendo-produksies kan die gehoor uitsien na ’n nostalgiese reis saam met Crescendo-bekendes wat die musikale weg vir ’n nuwe geslag Afrikaanse stemme wys.

Dit vind Vrydag 16 Augustus by die Daisy Jones-teater in Stellenbosch plaas.

As deel van ATKV-Crescendo se 50ste bestaansjaar gaan die oud-Crescendo-wenners Jak de Priester en Babette Viljoen die verhoog met drie finaliste van 2024 deel. Saam met Duran Titus (Duka), Lester Paulus (Crimson Hozay) en Lize-Marié Naudé gaan die gehoor die liedjies en stories onthou wat oor die jare deur radio en televisie na sitkamers gebring is.

Sonél Brits, die besturende direkteur van die ATKV-MSW, vertel dat sy die geleentheid gehad het om die vorige produksie Platformsessies: Divers by te woon. “En was dit nou ’n ervaring. Wat ek van die produksie onthou, is hoe die gehoor en ander kunstenaars mekaar aangemoedig en ondersteun het. Dit is amper soos ’n gemeenskap, ’n samekoms van verskillende genres, stemme, kunstenaars . . .”

Soos vir Brits het die interaktiwiteit ook Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur, opgeval. Hy gee erkenning aan die ankeraanbieders, Gracia Nicholls en Robin Fourie.

“Gewoonlik sit ’n gehoor net en kyk. Robin, Gracia, die Crescendo-bekendes en die 2024-finaliste het interaktiewe reaksie uit die gehoor ontlok deur almal op ’n reis van diverse musiek, filosofiese gesprekke en skerp humor te neem.”

Al is De Priester 22 jaar gelede (in 2002) as ATKV-Crescendo-wenner aangewys, onthou hy daardie aand soos gister. “Ek kon my eerste album, Sally Williams Nougat, met Crescendo se finansiële steun opneem – iets wat ek nooit op my eie sou kon doen nie. Ek sien daarna uit om die verhoog met aspirerende kunstenaars, wat waarskynlik dieselfde opgewonde gevoel gaan hê as wat ek 22 jaar gelede ervaar het, te deel.”

Viljoen, die 2009-wenner, gaan ook saam met die pianis en komponis Olga Leonard tydens Platformsessies: Nostalgie te sien wees. “Dit is vir ons ’n ongelooflike voorreg om deel van ATKV-Crescendo se mylpaaljaar te wees. Die rede hoekom Crescendo myns insiens ná vyf dekades steeds relevant is, is omdat hierdie projek daarin slaag om die musikale diversiteit van Afrikaans te vier. Daar is soveel verskillende variëteite, stemme en genres in Afrikaans, maar tog praat ons steeds dieselfde taal.”

Conrad Jamneck, bestuurder van die Daisy Jones-teater, wat die afgelope drie jaar die Platformsessies aanbied, moedig mense aan om kaartjies vir die produksie te koop.

“Dit is definitief enig in sy soort. Dit is vir my persoonlik wonderlik om te sien hoe die kunstenaars deur hierdie proses groei van daardie eerste repetisie tot die uiteindelike afsluitingskonsert aan die einde van die jaar.”

  • Kaartjies kos R250. Kontak Ronel Vorster by ronelv@atkv.org.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.