Die geneigdheid is om hulle partykeer eenkant toe te skuif, want hulle is veeleisend om te onderhou. Hulle is dalk nie meer so aktief en produktief soos vroeër nie, en dan is daar die uiteindelike tydfaktor waarby baie van ons besige skedules blootweg net nie meer inpas nie. Die enkel kamertjie in ’n rus- of versorgingsoord word dan heel gemaklik die alternatief om die probleem te hanteer.

Daar is egter die wat aan die teendeel glo en dit ook in die praktyk laat sigbaar word. Hulle is die groep wat die medaljes wil uitdeel. Wat die waarde van hulle wat die skemerjare bereik het, omarm en met liefde die versorgingstaak verrig.

Ons oumas en oupas wat nog begenadig is om in hul silwerjare met ons te wees. Ek wil deel wees van die groep wat medaljes uitdeel. Sit sommer ’n goue beker ook by, want ek weet ook van oumas en oupas na aan my wat ’n waardige voetspoor in my lewe gelaat het.

In ons land het ons te veel rillerstories van hoe ons senior burgers haglike omstandighede moet trotseer aan huis van naaste familielede. Veral die van ons bejaardes wat nie meer die fisieke krag het om soos vroeër die take te verrig wat hulle vir dekades kon regkry nie. Ek sidder as ek dink hoe baie van ons senior burgers vir dae en weke aaneen stoksielalleen aan hul eie lot oorgelaat word, want die kinders werk en kan eers na werk die nodige kom doen. Vergeet maar van ’n gebalanseerde dieet wat gevolg moet word, want die staatstoelaag se rande moet elke maand tot die uiterste gerek word.

Ek kan my net indink wat deur die gedagtes van ’n ouma of oupa moet gaan wat die realiteit van hul meer-jare moet aanvaar. Hoe die hand en voet net nie meer die alledaagse dinge van vroeër wil of kan verrig nie. En die oog nie meer wil lekker ver sien nie. Voeg daarby die geheue wat jou tydig en ontydig in die steek laat tot jy net maar kan lag as jy na die lang soektog ontdek dat die bril eintlik op die kop vassit. Dis daai laggie wat alles die moeite werd maak, maar ook die gees lig en lewend hou.

Laat my sommer dink aan ’n bejaarde paartjie wat ek gereeld sien op my eie daaglikse roetinestappies. Dis die mooiste gesig om te sien hoe die twee van hulle hand aan hand hul eie stappie na die winkels, vriende of vir oefening aanpak.

Die werkywer wat daar nog by hulle op ’n daaglikse basis bespeur kan word, sal enige jongmens wat nie lief is vir ’n bietjie hand aan die ploeg slaan nie tot stille skaamte dryf. En elke keer as ek die twee van hulle in aksie sien, dan spreek ek my eie wens uit dat ek eendag hul voorbeeld wil volg. Die twee van hulle verpersoonlik vir my die gesegde dat ouderdom slegs ’n syfer is. Al is die gehoor van my voorbeeldpaartjie nie meer van die beste nie, is daar verder niks verkeerd met die vlees en gees nie.

Nie alle senior burgers is so gelukkig soos my voorbeeldpaartjie nie. Vir ander is die gebrek aan fisieke welstand ’n luuksheid en word die behoefte aan versorging deur eie kinders ’n groter prioriteit. En vir die wat nie kans sien vir die taak op hande nie, is dit seker dan maar beter om vir ouma en oupa in die sorg van ander te plaas wat dit in die meeste gevalle met liefde en opregte omgee doen.

Dis egter families wat self kans sien vir hierdie onvoorwaardelike liefdestaak vir wie ek die grootste respek het. Hierdie is die mense wat die medaljes en bekers uitdeel aan ouma en oupa vir die waardevolle rol wat hulle speel.

Met of sonder fisieke, verstandelike, geestelike of emosionele welstand van die bejaarde, sal hierdie groep ons oumas en oupas met waardigheid en respek hanteer. Selfs al is die taak soms uiters veeleisend, bly dit ’n voorreg om dit te verrig. Dis die groep wat deur die liefdestaak erkenning gee aan oupa en ouma vir die waardes vasgelê, die kleinkinders help grootmaak het en deur dik en dun hulself opgeoffer het om die familienaam in ere te hou. En die minste wat ons kan doen is om nie te vergeet nie – veral nie van ouma en oupa nie.

Die woorde van ’n gryse ouma so ’n tyd gelede sal my vir altyd bybly: “Ek het vrede gemaak dat ek nie meer alles kan doen wat ek vroeër gedoen het nie, maar dis soms net die eensaamheid wat my erg vang. Ek mis my kinders en my kleinkinders. Ai, hulle is ook maar besig.” Ek het geduldig verder geluister na een van haar gunsteling doengoed hier skuins na tagtig – gediggies skryf.

Oumas en oupas, julle verdien die medaljes en goue bekers, want ons as jul kinders en kleinkinders is wat ons vandag is deur jul daarwees.

You need to be Logged In to leave a comment.