’n Taai stryd wag

Hanteerfoute op kritieke tye en ’n gebrek aan afronding was die rede waarom die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) Van der Stel-Evergreens (VDE) se droom om onder die eerste twee spanne op die punteleer van Superliga B te eindig, gekelder het.


Hanteerfoute op kritieke tye en ’n gebrek aan afronding was die rede waarom die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) Van der Stel-Evergreens (VDE) se droom om onder die eerste twee spanne op die punteleer van Superliga B te eindig, gekelder het.

UWK het VDE met 31-21 geklop en is steeds onoorwonne ná nege wedstryde, met nog vyf wedstryde oor voordat die studente se ligaverpligtinge vir 2024 afgehandel is. UWK is ook die gunsteling om die eerste plek te beklee.

Die twee spanne wat in die eerste twee posisies eindig, dring outomaties deur na die halfeindstryd, terwyl die spanne in posisies drie tot ses in kwarteindstryde betrokke gaan wees om te bepaal watter twee in die halfeindstryd gaan speel om te bepaal wie in 2025 in Superliga A gaan meeding.

VDE het vier waarskynlike drieë deur die vingers laat glip deur die bal in UWK se kwartgebied aan te slaan, die bal te verloor of nie die bal aan ’n spanmaat in ’n beter posisie uit te gee om te gaan druk nie.

Die Stellenbossers het nog twee kragmetings oor – teen All Saints hierdie Saterdag en teen Kraaifontein aanstaande Woensdag (14 Augustus). VDE sal die maksimum punte moet kry as hy onder die topses wil eindig.

Kraaifontein is een punt (42) agter VDE, maar het twee wedstryde minder gespeel en sy kragmeting sal bepaal waar VDE op die punteleer eindig.

Hamediehs het ook ’n stokkie voor Hands & Heart se opmars in die liga gesteek deur hulle met 28-27 te klop. Hearts bly nietemin steeds die voorloper in Superliga B met 45 punte.

Franschhoek is ook oorgehaal om hom in die liga te laat geld en het korte mette gemaak met sy buurman, Kylemore, deur laasgenoemde met 40-29 kaf te draf. Franschhoek sukkel die afgelope drie jaar om uit die liga te kom en lê tans sewende op die punteleer met 39 punte.

Franschhoek speel hierdie Saterdag gasheer vir die spanne van die Bellville-rugbyklub.

In Superliga C het Pniël Villagers ook tweede gekom toe Busy Bees hom in Langa met 39-32 geklop het.

In die Promosieliga het Blue Stars van Klapmuts vir Albions van Paarl met 22-17 geklop. Blue Stars speel Saterdag teen Violets op die Chukkerweg-sportterrein in Kenwyn.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.