’n Huisrower wat in twee afsonderlike voorvalle op bejaarde inwoners van ’n gesogte aftreeoord toegesak het, is verlede week in die Stellenbosch-streekhof gevonnis.
Adriaan van Kerwel van Blackheath is verlede Maandag (22 Augustus) 28 jaar direkte tronkstraf opgelê. Dit nadat die 25-jarige skuldig bevind is aan twee aanklagte van huisbraak met die doel om te roof en gewapende roof (15 jaar waarvan vyf jaar opgeskort is) en besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen (agt jaar).
Van Kerwel se inhegtenisneming volg ná twee afsonderlike voorvalle van huisroof by die La Clémence-oord buite Jamestown gedurende die feestyd en met die begin van die nuwe jaar. Die eerste voorval het op Sondagmiddag 19 Desember plaasgevind toe die beskuldigde om 15:00 ’n woning geteiken het terwyl die bejaarde inwoners tuis was. Die 93-jarige man en sy vrou het die rower, gewapen met ’n mes, in hul huis betrap en is in die proses deur die oortreder aangeval. Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Natalie Martin het die verdagte een van die slagoffers met die mes in die hand gesteek en met ’n skootrekenaar en ander artikels in hul voertuig gevlug. Die polisie het op die huisroof gereageer nadat personeel van die oord hulle kort ná die voorval ontbied het. ’n Saak van huisbraak met die opset om te roof en gewapende roof is aanvanklik vir verdere ondersoek geopen.
Die misdadiger het egter weer op die aftreeoord toegesak en Donderdagnag 6 Januarie nog ’n huisroof gepleeg.
Martin sê die voorval het tussen 23:00 en 02:00 plaasgevind toe ’n 75-jarige inwoner die nuutste slagoffer geword het. Van Kerwel het glo die bejaarde met ’n vuurwapen aangehou en weer eens ’n skootrekenaar asook ’n kamera en messe gebuit.
Speurders het in hul ondersoek inligting oor gesteelde goedere wat in die besit van ’n verdagte gevind is, opgevolg. Nadat die goedere deur die klaer as sy eiendom uitgewys is, is die verdagte, wat Vrydag 7 Januarie in hegtenis geneem is, aangekla.
Polisiespeurders het met ondervraging inligting verkry wat hulle tot die vuurwapen gelei het. Die verdagte is gevolglik in verband met albei huisrowe aangekla.
Volgens die ondersoekbeampte sers. Kelvin Moses kom die sukses ná baie na-uurse werk en nagte van inligting nagaan. Maar benewens die toegewyde speurwerk, het dit veel meer as net dít geverg om te verseker dat die misdadiger aangekeer word. Dit was ook ’n kwessie van positiwiteit en geloof in die gewenste uitkoms, meen Moses wat al 12 jaar lank as ’n trotse aanwins by die plaaslike polisiekantoor dien om ’n verskil te maak.
Gevra wat vir hom dien as dryfkrag om elke dag misdaad hok te slaan en ’n veiliger samelewing te skep, sê Moses: “My ondersoeke wat afsluiting vir klaers bring en om die dankbaarheid op hul gesigte te sien. Dit en om slagoffers van misdaad by te staan ??en die ekstra myl te loop en te sien dat geregtigheid seëvier.”
Moses vertel voorts die gevoel dat geregtigheid in hierdie geval geseëvier het, is goed. “Dit is altyd lekker om terug te gaan en vir die slagoffers te vertel dat die verdagte lang tronkstraf gekry het,” sê Moses, wat ook erkenning gegee het aan sy kollega, speursers. Roger Jooste vir sy hulp en bystand.